Proteas kies twee draaiers vir Pakistan-toets

Aiden Markram (argief). Foto: Anesh Debiky/AFP Photo.

Die Protea-keurders het op Keshav Maharaj en George Linde besluit om hul draaiboul-aanval vir die geskiedkundige eerste toets teen Pakistan in Karatsji te lei.

Die 30-jarige Maharaj is al ’n geruime tyd Suid-Afrika se eerste keuse in die draai-afdeling, maar hy het in sy vorige toer na Asië – dáárdie rampspoedige reeks teen Indië – gesukkel.

Daarteenoor sal Linde se veelsydige vaardighede ongetwyfeld ’n aanwins wees. In eersterangse krieket slaan hy sy lopies teen ’n gemiddeld van 30,12 en laat paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,38 kantel.

Daarbenewens het hy ook heel skaflik in sy enigste toets teen Indië vertoon – 32 lopies met die kolf en vier paaltjies in die wedstryd.

Die twee draaiers se insluiting beteken dat daar nie plek vir Wiaan Mulder in die beginelftal is nie. Die Johannesburgse veelsydige speler was die Proteas se bestendigste bouler in hul vorige reeks teen Sri Lanka.

Quinton de Kock het vanoggend die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Maar ten spyte van ’n flinke begin, is Aiden Markram (13) en Rassie van der Dussen (17) reeds terug in die kleedkamer.

Markram is ná ’n paar goeie dryfhoue in die glippe uitgevang, terwyl Van der Dussen onnodig uitgehardloop is.

Suid-Afrika staan tans op 64/2 ná 16 boulbeurte

Proteas: Dean Elgar, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, Temba Bavuma, Quinton de Kock (kaptein), George Linde, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada,  Anrich Nortjé en Lungi Ngidi.

Pakistan: Abid Ali, Imran Butt, Azhar Ali, Babar Azam (kaptein), Fawad Alam, Mohammad Rizwan, Faheem Ashraf, Hasan Ali, Nauman Ali, Yasir Shah en Shaheen Shah Afridi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.