Proteas klop mank besoekers op drafstap

Faf du Plessis. Foto: Catherine Kotze.

Die Proteas geniet dit om op SuperSportpark in Centurion te speel. Die kolwers is op die voorvoet danksy die blad se bestendigheid, terwyl die boulers gereeld in hul noppies met die vaart en wip is.

Deur die jare het die span onder meer met Australië op die einste veld afgereken, terwyl die Mark Boucher-afrigtersera ook op ’n wennoot in Pretoria begin het.

Vandag het die Proteas die mure om hul veilige vesting met ’n paar rye bakstene hoër gebou toe hulle Sri Lanka met ’n beurt en 45 lopies geklop het.

Toegegee, die besoekers was hoegenaamd nie op hul beste nie en die beseringspook het amok onder hul boulers en kolwers gemaak. Tog het Boucher en Quinton de Kock darem weer iets – altans wat vertonings betref – om oor te glimlag.

Op 36-jarige ouderdom het Faf du Plessis gewys dat hy nog baie petrol in sy tenk oor het. Sy beurt van 199 is die hoogste van sy loopbaan en die teleurstelling op sy spanmaats se gesigte was duidelik toe hy sy dubbele honderdtal met een lopie misgeloop het.

Hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Wiaan Mulder. Foto: Catherine Kotze.

Dan het Aiden Markram (68) en Temba Bavuma (71) ook hul staal met die wilgerlat gewys. Maar dit was teen ’n mank Sri Lanka-boulaanval; of hulle soortgelyke prestasies teen ’n Mitchell Starc of draaiboulers in Pakistan sal kan vermag, is ’n ope vraag.

Op die boulfront het die jong Wiaan Mulder ongetwyfeld sy kleim afgesteek. Die Johannesburger het met sy lyn en lengte beïndruk en hy kan moontlik die rol van Vernon Philander in die toekoms vertolk.

Die tweede toets begin Sondag (3 Januarie) in Johannesburg en Suid-Afrika se nuwe afsonderingsregulasies sal nie ’n invloed op die reeks hê nie.

  • Opsomming van telkaart:

Sri Lanka 396/9: Dinesh Chandimal 85, Dhananjaya de Silva 79, Lutho Sipamla 4/76 en Wiaan Mulder 3/69.

Suid-Afrika 621: Faf du Plessis 199, Keshav Maharaj 73, Wanindu Hasaranga 4/171 en Dasun Shanaka 2/98.

Sri Lanka 180: Kusal Perera 64, Hasaranga 59, Sipamla 2/24 en Lungi Ngidi 2/38.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.