Proteas nou sesde op toetsranglys

Pure Protea-jolyt. Foto: Randy Brooks/AFP.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) se jongste ranglys vir toetskrieketlande is Suid-Afrika tans die sesde voorste span ter wêreld. Darem ’n verbetering op die sewende plek wat hulle ’n maand terug beklee het.

Dean Elgar se spanlede het hul eerste reeksoorwinning weg van die huis in jare gesmaak toe hulle die Wes-Indiese Eilande met 2-0 in die pasvoltooide reeks geklop het.

Toegegee, die Windies is hoegenaamd nie meer die krieketreuse van die tagtigerjare nie en hul kolflys is maar baie broos, tog kon die Proteas se boulaanval 20 paaltjies in al twee toetse neem.

Kagiso Rabada (11 paaltjies), Keshav Maharaj (9 paaltjies), Lungi Ngidi (8 paaltjies) en Anrich Nortjé (8 paaltjies) tel onder die topvyf boulers van die reeks. Soos wat enige krieketliefhebber wat sy sout werd is vir jou sal vertel: Kolwers sorg vir goeie vertonings, maar dit is ’n sterk boulaanval wat uiteindelik die wa deur die drif trek.

Dan is Quinton de Kock se spelpeil met die kolf in die hand ook weer ’n rede om te glimlag.

Die 28-jarige paaltjiewagter het die reeks met 237 lopies en ’n gemiddeld van 118,50 afgesluit; dankie tog die sukkeldae van sy kapteinskapera blyk iets van die verlede te wees.

Maar benewens De Kock en Rassie van der Dussen (125 lopies teen ’n gemiddeld van 62,50) het die res van die Suid-Afrikaners gesukkel.

Elgar se gemiddeld was 29, terwyl Aiden Markram, Kyle Verreynne en Wiaan Mulder se gemiddelde almal onder 25 lopies gedraai het.

In ’n era waar geen Protea-oorwinning teen enige land gewaarborg is nie, kan ’n mens ongetwyfeld  dankbaar wees oor die onlangse reekssege.

Een swaeltjie maak egter nie die somer nie en daar wag nog baie harde werk voordat die Proteas weer met ’n Engeland of ’n Indië kan saamgesels.

Maar dit is darem ’n begin.

  • Indië en Nieu-Seeland is tans juis in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap in Southampton gewikkel.

Die Indiërs geniet tans op die laaste dag ’n voorsprong van 53 lopies met ses tweedebeurtpaaltjies staande.

  • IKR-punteleer:
  1. Nieu-Seeland
  2. Indië
  3. Australië
  4. Engeland
  5. Pakistan
  6. Suid-Afrika
  7. Wes-Indiese Eilande
  8. Sri Lanka
  9. Bangladesj
  10. Zimbabwe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.