Proteas sal Stokes se koebaai-partytjie wil bederf

Ben Stokes sal vandag in sy laaste eendagwedstryd vir Engeland teen die Proteas speel. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Vandag se eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in Durham beloof om vir selfs ’n groter vuurwerkvertoning te sorg nadat Ben Stokes gister aangedui het dat dit sy laaste vyftigboulbeurt-kragmeting vir Engeland sal wees.

Die 31-jarige speler het in ’n verklaring gesê dat ’n baie moeilike besluit was, maar dat hy nie meer op alle suiers in dié formaat van die spel kan vuur nie.

“Engeland verdien ’n speler se heel beste, maar drie verskillende krieketformate is tans net nie meer vir my volhoubaar nie,” het Stokes gesê.

“Nie net kan ek aan my lyf voel dat ek al hoe moeër weens die besige skedule word nie, maar ek dink ook dat ek in die plek van ’n ander speler staan wat gereed is om sy bes vir die span te lewer.”

Stokes het Engeland in 104 eendagkrieketwedstryde verteenwoordig en hy was die spilpunt waarom die bleekbene se Wêreldbeker-sukses in 2019 gedraai het.

“Dit is tyd om aan te beweeg en vir ’n ander speler ’n geleentheid te gee om net soveel ongelooflike herinneringe bymekaar te maak.”

Die vurige veelsydige speler sal egter steeds beskikbaar wees vir internasionale T20-wedstryde, terwyl hy ook die aanvoerder van Engeland se toetskrieketspan is.

“Ek is trots op elke eendagkrieketwedstryd wat ek vir Engeland gespeel het en dit is ’n spesiale geleentheid om my laaste wedstryd op my tuisveld te speel. Hopelik kan ons ook die reeks teen Suid-Afrika op ’n wennoot begin.”

Nodeloos om te sê is die Engelse gaande oor Stokes en hy word gereeld met Suid-Afrika se Jacques Kallis vergelyk.

Maar as ’n mens na sy eendagkrieketstatistieke kyk, kom hy nie naby “Koning Kallis” nie.

Stokes het in sy 104 wedstryde 2 919 lopies teen ’n gemiddeld van 39.44 geslaan en 74 paaltjies teen ’n gemiddeld van 41.79 geneem.

Daarteenoor het die Suid-Afrikaanse ster in sy 328 wedstryde meer as 11 000 lopies teen ’n gemiddeld van 44.36 gemoker. Terselfdertyd het hy 273 paaltjies teen 31.79 laat spat.

Dit is maar die verskil tussen ’n baie goeie krieketspeler en ’n briljante ster.

Tog kan niemand met die feit stry dat Ben Stokes tans een van die gevaarlikste spelers op die wêreldverhoog is nie.

Hy is aggressief, hy hou van wen en gooi nie sommer handdoek in nie. Maar – om vir Mark Boucher aan te haal – slim krieket kan die perfekte teenvoeter vir aggressiewe spel wees.

Die wedstryd begin vandag om 14:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.