Proteas se Ierse avontuur begin binnekort

David Miller. Foto: GB Jordaan.

Die eerste aflewering van die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate word oor net meer as drie maande afgestuur en ná die Proteas se reeksoorwinning teen die Windies is daar darem ’n skrefie lig aan die einde van die donker tonnel.

Die Windies is die verdedigende wêreldkampioen en hulle het met verskeie internasionale sterre soos Chris Gayle, André Russell en Kieran Pollard in hul span vir die pasvoltooide reeks gespog.

Tog is daar verskeie dinge wat die Proteas nog in plek moet kry voordat hulle enigsins daaraan kan dink om met die silwerware huiswaarts te keer.

Ja, in T20-krieket kan ’n individuele spogvertoning of twee sorg dat ’n span met die louere wegstap, maar Mark Boucher-hulle sal onder meer die Protea-kolwers vinnig moet regdokter; ’n mens kan nie verwag dat Quinton de Kock in elke wedstryd die meeste lopies aanteken nie.

Juis daarom is die komende witbalkrieketreekse teen Ierland van soveel belang: Om vóór die T20-Wêreldbekertoernooi die antwoorde op ’n paar tergende vrae te vind.

Kwessies soos wie gaan die kolfwerk saam met De Kock open, is daar plek vir Janneman Malan in die elftal en wie kan die rol van ’n sesde bouler vervul?

Volgens Boucher bied die wedstryde ook ’n gulde geleentheid vir spelers om hul spelpeil te herwin.

David Miller kon byvoorbeeld slegs 52 lopies teen ’n gemiddeld van 13,00 in die afgelope Windies-reeks slaan, terwyl Lungi Ngidi amper 11 lopies per boulbeurt afgestaan het.

Een van Suid-Afrika se voorste T20-boulers, die Lions se Sisanda Magala, sal egter die Ierse avontuur weens ’n enkelbesering misloop en hy kan tot vier weke op die krukkelys wees.

Protea-groep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Keshav Maharaj, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne en Lizaad Williams.

Bepalings:

  • Eendagwedstryde: 11, 13 en 16 Julie
  • T20-wedstryde: 19, 22 en 24 Julie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Mmmm dit sal interessant wees om te sien hoe die Arabiere die BLM-snert sal hanteer tydens die T-20 Wereldbeker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.