Proteas struikel oor eerste hekkie

Sri Lanka het die Protea-vrouekrieketspan met drie lopies op Nuweland geklop. Foto: Twitter.

Hoewel Nonkululeko Mlaba die laaste aflewering van die wedstryd na die grenstou gejaag het, het die Protea-vrouekrieketspan steeds die openingswedstryd van die T20-Wêreldbeker met drie lopies teen Sri Lanka verloor.

Voor 8 402 toeskouers – ʼn nuwe bywoningsrekord vir ʼn vrouekrieketwedstryd in Suid-Afrika – en met Dané van Niekerk in die kommentatorshokkie – het die Proteas gesukkel om hul stempel teen die Sri Lanka-draaiers af te druk.

Suné Luus, wat die kapteinskapleisels in Van Niekerk se afwesigheid vashou, was die enigste kolwer wat meer as 20 lopies kon aanteken.

Sleutelspelers soos Laura Wolvaardt (18 lopies), Tazmin Brits (12), Marizanne Kapp (11) en Chloe Tryon (10) het almal hopeloos te gou hul paaltjies verloor en die wedstryd het op ʼn opwindende einde afgestuur.

Maar soms sorg klein wenteikens – 130 lopies in dié wedstryd – vir die grootste kopseer en toe Luus haar paaltjie in die 19de boulbeurt verloor, was die skrif so te sê aan die muur vir die tuisspan.

Argieffoto van Marizanne Kapp. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Vroeër het Kapp en Shabnim Ismail goed gedoen om die Sri Lankaanse openingskolwers in toom te hou.

Chamari Athapaththu en Vishmi Gunaratne se vennootskap van 86 lopies (vanaf slegs 62 aflewerings) om die tweede paaltjie was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne gewees.

“Sri Lanka het ʼn baie goeie vennootskap in hul kolfbeurt gehad en ons kon nie dieselfde doen nie. Daar is egter nog ʼn lang pad voor die eindstryd en baie positiewe dinge om op terug te val vir die volgende paar wedstryde,” het Luus gesê.

Die Proteas speel Maandag teen Nieu-Seeland in die Paarl.

  • Opsomming van telkaart:

Sri Lanka 129/4 in 20 boulbeurte: Chamari Athapaththu 68, Vishmi Gunaratne 35 en Marizanne Kapp 1/15.

Suid-Afrika 126/9 in 20 boulbeurte: Suné Luus 28, Inoka Ranaweera 3/18 en Oshadi Ranasinghe 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.