Proteas trek Anrich vir T20-skouspel nader

Anrich Nortjé. (Foto: Indrarnil Mukherjee/AFP)

Aiden Markram sal aan die stuur van ʼn groep van 15 spelers by die T20-Wêreldbekertoernooi in die VSA en die Wes-Indiese Eilande wees.

SA20-sterre soos Ottniel Baartman en Ryan Rickelton is by die groep ingesluit, terwyl Anrich Nortjé ook weer deel van die aksie kan wees.

Dit 30-jarige Nortjé se laaste wedstryd in Protea-kleure was in September 2023 teen Australië in Bloemfontein en hy het die Wêreldbeker (50 boulbeurte) in Indië met ʼn laerugbesering misgeloop.

Hy speel egter deesdae weer vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga, maar die kolwers teiken beslis vinnige lopies van sy boulwerk.

In sy ses wedstryde vir die Capitals het hy weliswaar sewe paaltjies laat kantel, maar hy staan amper 14 lopies per boulbeurt af.

Die Mumbai Indians se Romario Shepherd het byvoorbeeld 32 lopies van een van sy boulbeurte gemoker, maar ʼn Anrich Nortjé op volle vaart kan nogtans kolwers op die groot verhoog laat bontstaan.

Hy het reeds weer die spoednaald in die rooi gedruk met ʼn paar aflewerings van vinniger as 150 km/h.

Tristan Stubbs in aksie vir die Delhi Capitals. (Foto: X/IPL)

Dan kan die Suid-Afrikaners op die vuurwerk-wilgerlatvertonings van Quinton de Kock, David Miller en Heinrich Klaasen steun, terwyl Tristan Stubbs ook deesdae op alle suiers vir die Capitals in Indië vuur.

Daar is egter geen teken van Faf du Plessis, Temba Bavuma, Rilee Rossouw of Matthew Breetzke in die groep nie.

Proteas se T20-Wêreldbekergroep: Aiden Markram (kaptein), Ottniel Baartman, Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, David Miller, Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi en Tristan Stubbs.

Bepalings:

3 Junie: Suid-Afrika teen Sri Lanka in New York

8 Junie: Suid-Afrika teen Nederland in New York

10 Junie: Suid-Afrika teen Bangladesj in New York

14 Junie: Suid-Afrika teen Nepal in St. Vincent

19 Junie: Uitspeelwedstryde begin

29 Junie: Eindstryd in Barbados

Aiden Markram is die kaptein van die Proteas se T20-Wêreldbekergroep. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.