Proteas wen te midde van chaos

Die Proteas het die Wes-Indiese Eilande met agt paaltjies geklop. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Die Proteas het Dinsdag in Dubai die Wes-Indiese Eilande met agt paaltjies in ’n Wêreldbeker-wedstryd geklop.

Dwaine Pretorius (3/17), Keshav Maharaj (2/24) en Anrich Nortjé (1/14) het eerstens die Eilandmanne tot 143/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk, waarna Aiden Markram (51 van 26 aflewerings) die langsteel ingelê het om toe te sien dat die Proteas die wenlopies binne 19 boulbeurte geslaan het.

Markram speel deesdae uitstekende krieket en hy het ses grenshoue in sy beurt gemoker. Hy was veral sterk aan die bykant en het met reëlmaat die bal (op die voorvoet, nogal) oor die grens laat seil.

Die vurige Nortjé is egter as die speler van die wedstryd aangewys en hy meen dat sy sukses ook aan die Indiese Premierliga (IPL) – wat óók in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel is – toegeskryf kan word.

“’n Mens kan met selfvertroue speel omdat jy al vertroud is met die toestande en weet wat om wanneer te doen. Net soos tydens die IPL was variasie vandag ook die wagwoord,” het Nortjé gesê.

Maar waar die vreugdevure op die veld brand, het die gebeure langs die grenstou ’n wrang smaak in baie ondersteuners se mond gelaat.

Krieket Suid-Afrika het kort vóór die aanvang van die wedstryd ’n mediaverklaring uitgereik waarin daar geëis word dat elke Protea-speler die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging moet buig.

Quinton de Kock, talentgewys die Proteas se beste kolwer, het hom kort voordat die eerste aflewering afgestuur is, aan die wedstryd onttrek.

Die ster-speler het weliswaar nog nie self die redes vir sy afwesigheid verskaf nie, maar dit verg nie veel om tussen die lyne te lees nie.

Volgens Temba Bavuma, kaptein, het De Kock se besluit die span onkant betrap.

“Quinny is ’n baie belangrike skakel in die span, nie net as ’n kolwer nie, maar ook as ’n senior speler,” het Bavuma gesê.

Die Proteas speel Saterdag teen Sri Lanka in hul derde groepwedstryd. Hulle is tans vierde op Groep 1 se punteleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Thelsa ·

Welgedaan Quinton. Dit is verregaande van die Persone om te verwag ‘n speler moet teen sy beginsels optree.

Jack ·

Bravo Quinton. Dis hoog tyd dat mense standpunt teen hierdie emosionele afpersing inneem.

AW ·

Dis die Begin van die Einde!!

Daar gaan nog van sulke Siek dinge Kom !!

Waarnemer ·

En het die res van die span het die knie gebuig….voor die geldmag…..?Is daar werklik net een MAN in die Protea span te wete Quintin de Kock.KSA moet geboikot word.

Anoniem ·

In hierdie wedstryd het ek nie een van die twee spanne ondersteun nie weens hulle BLM gemors.

Corne123 ·

Ai dit n jammer dat die rasiste gewen het hoop volgende ene verloor hulle. Krieket in SA is dood danksy politiek

Dirk Mostert ·

Gister het N.S. gekniel voor hul wedstryd teen Pakistan en welverdiend verloor.

piet ·

In die wedstryd tussen Pakistan en Indie die ander dag is albei spanne deur hul owerhede aangese om BLM te ondersteun. Dis belangrik om daarop te let dat ALBEI spanne die saak amptelik ondersteun. Indie het geknie maar Pakistan het die saak ondersteun deur te besluit om hand teen die hart te plaas. Die algemene standpunt tussen alle spanne is dat BLM ondersteun word. So jy kies nou watter BLM-ondersteunende span jy wil ondersteun of jy moet in beginsel niemand ondersteun nie.

piet ·

Lyk of die ankerman-benadering werk. Bavuma wat gewoonlik die ankerman speel is vroeg uit en toe neem Rassie die rol oor. Op die ou end het hy nog stadiger as Bavuma nou die dag gekolf maar dit was belangrik dat hy nie sy paaltjie verloor nie. Toe wen ons maklik teen die einde. Goeie bydrae ook van Hendricks wat ter laaste ure in De Kock se plek moes speel. Kon nie maklik vir hom wees onder die omstandighede nie. Dus ‘n goeie plaasvervanger vir De Kock.

Wakkerslaper ·

Wie gee om? Ek is klaar met hierdie sub-standaard kwota gemors wat so graag knie wil buig ter ere aan ‘n misdadiger…

piet ·

Tyd vir Hendricks om sy stem dik te maak nou dat De Kock nie meer deel wil wees van die spanopset nie.

Helgard ·

Wonder gaan die Proteas uitgeskakel word deur skaamtelike vertoning teen Sri Lanka or gaan hulle wag om te choke teen laaste Super 12 wedstryd teen Engeland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.