Quinny terug; slaan 100-tal

Quinton de Kock en Janneman Malan. Foto: Twitter.

Die Proteas se resep vir sukses lyk eenvoudig: Wanneer Quinton de Kock speel, wen die span.

Die 28-jarige paaltjiewagter het sy terugkeer tot die Proteas se begin-elftal met ’n goeie honderdtal in ’n belangrike wedstryd teen Ierland gevier.

Die Suid-Afrikaners het Dinsdag se wedstryd verloor en as Ierland hierdie wedstryd sou wen, sal dit hul eerste reeksoorwinning teen die Proteas wees.

Maar De Kock het sy honderdtal van slegs 83 aflewerings gemoker en hy is uiteindelik vir 120 uitgehaal. Sy beurt het 11 viere en vyf sesse ingesluit. Terselfdertyd het hy ’n skitterende openingsvennootskap van 225 lopies met die talentvolle Janneman Malan geniet.

Malan het Dinsdag 84 lopies geslaan en hy het dit vandag met sy tweede eendagkrieket-honderdtal opgevolg.

Dit het die 25-jarige kolwer van die Cape Cobras 126 aflewerings geneem om sy honderdtal aan te teken.

  • De Kock was Suid-Afrika se beste kolwer in die afgelope reekse teen die Wes-Indiese Eilande. In die toetse het hy 237 lopies teen ’n gemiddeld van 118,50 geslaan.

Protea-span: Quinton de Kock, Janneman Malan, Temba Bavuma (kaptein), Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Heinrich Klaasen, Andile Phehlukwayo, Keshav Maharaj, Anrich Nortjé, Tabraiz Shamsi en Lizaad Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.