Rob wéét wat kaptein Aiden kan doen

Aiden Markram. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Dit was nie net sy goeie vertoning in die SA20-toernooi wat die T20-kapteinskap-pendulum in Aiden Markram se guns laat swaai het nie.

Rob Walter weet al geruime tyd dat Markram, vanuit ʼn leierskapoogpunt, die beste uit sy spelers op die veld kan haal.

Die 28-jarige kolwer was ook in Temba Bavuma se afwesigheid aan die stuur van sake in die laaste eendagwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Potchefstroom; ʼn kragmeting wat die Proteas met meer as 20 oorblywende boulbeurte gewen het.

“Sy [kapteinskap] is glad nie vir my ʼn verrassing nie en ek is ten volle bewus van sy leierskapvaardighede. Ek dink hy het die spelers goed op die veld bestuur, terwyl hy ʼn paar slim taktiese besluite geneem het,” het Walter op die vooraand van die T20-reeks teen die Windies gesê.

Markram was veral aan die brand in die SA20-toernooi.

Markram het skitterend in die SA20-toernooi gespeel. Foto: Twitter via Sunrisers Eastern Cape.

Hy is as die speler van die toernooi aangewys, hy het ʼn belangrike honderdtal in die halfeindstryd teen die Joburg Super Kings geslaan en sy Sunrisers Eastern Cape-span het uiteindelik die silwerware omhoog gehou toe hulle die hoogaangeskrewe Pretoria Capitals in die eindstryd geklop het.

O ja, Sunrisers Hyderabad het ná afloop van die toernooi ook aangedui dat die Protea-speler sy kaptein in die komende Indiese Premierliga sal wees.

Tog meen Walter dat Markram se SA20-heldedade slegs ʼn bevestiging is van dit wat hy reeds geweet het.

“Soos reeds genoem, het ek hom al geruime tyd in my visier gehad. Sy aanstelling as kaptein van die nasionale T20-span is ook gedoen met die oog op die toekoms. Daar was dus ʼn klomp faktore wat in sy guns getel het; die SA20-toernooi het sy vaardighede bloot net onderstreep.”

Volgens Walter sal hy probeer om twee vlieë met een klap in die mik-en-moker-reeks teen die Windies te slaan.

Kagiso Rabada. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Ja, internasionale T20-wedstryde is deesdae van groot belang, maar die 47-jarige afrigter wil ook van die kragmetings gebruik maak om sy spelers vir die eendagwedstryde teen Nederland gereed te kry.

Die Proteas moet die klompedraers oortuigend klop as hulle ʼn direkte pad na later vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Indië wil volg.

“Ons wil die T20-reeks gebruik om toe te sien dat spelers soos Kagiso Rabada en Anrich Nortjé weer op alle suiers vuur. Hulle moet skerp en gereed wees vir die Nederland-kragmetings.”

  • Daar word hierdie naweek twee T20-wedstryde teen die Windies gespeel.

Saterdag: Die aksie begin om 14:00 op SuperSportpark

Sondag: Die aksie begin om 14:00 op SuperSportpark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.