SA teen Engelse by opening van T20-Wêreldbeker vir vroue

Die Protea-vroue se Laura Wolvaardt in aksie. (Argieffoto: Proteas Women/X)

Suid-Afrika sal teen Engeland te staan kom in die openingswedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue, het die Internasionale Krieketraad (IKR) Sondag bekend gemaak.

Die toernooi duur van 3 tot 20 Oktober in Bangladesj, met wedstryde wat in die hoofstad Dhaka en die noordoostelike stad Sylhet beslis word. Oefenwedstryde begin reeds op 27 September.

Gasheer Bangladesj en die top ses spanne uit die vorige reeks in Suid-Afrika – Australië, Engeland, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande – kwalifiseer vanself vir die toernooi, met Pakistan wat by hulle aansluit as die volgende span op die ranglys.

Ierland, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Sri Lanka en Skotland ding mee om die oorblywende twee plekke met die halfeindronde van die toernooi wat in die VAE gespeel word.

Sesmalige wenners en die huidige wêreldnommereen, Australië, speel in groep A saam met Indië, Nieu-Seeland, Pakistan en die ander kwalifiserende span.

Bure en krieketvyande Indië en Pakistan meet op 6 Oktober kragte.

Suid-Afrika, Bangladesj, Engeland, die Wes-Indiese Eilande en die ander kwalifiserende span speel in groep B.

“Oor die afgelope ses tot sewe jaar het ons gesien hoe vrouekrieket beduidend groei,” het Geoff Allardice, uitvoerende hoof van die IKR, by die trofee- en groepbekendstelling gesê.

“Dit gaan ʼn besonderse toernooi wees.”

Die Wêreldbeker is die sewende van sy soort, met Bangladesj wat ook in 2014 die gasheerland was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.