SA20-finaal word nou môre beslis

Die Pretoria Capitals se Rilee Rossouw. Foto: Twitter.

Die SA20-eindstryd tussen die Pretoria Capitals en die Sunrisers Eastern Cape word nou môre op die Wanderers-krieketveld in Johannesburg beslis.

Die twee spanne sou aanvanklik vandag sake om die silwerware uitgespook het, maar aanhoudende reën en ʼn nat buiteveld beteken dat organiseerders die eindstryd na sy reserwedag geskuif het.

Die kolfblad is al vir die afgelope drie dae bedek en meer as 200 mm reën het al sedert Woensdag in die omgewing van die Wanderers geval.

Volgens vooruitsigte word daar nog reën vir Saterdag verwag, maar die son kan môre sy kop uitsteek.

“Ons was in gesprek met die wedstrydbeamptes, spanne, veldopsigter, belanghebbendes en die Suid-Afrikaanse weerdiens. Almal is dit eens dat dit die beste besluit is om die wedstryd uit te stel sodat dit in droër toestande beslis kan word. Ons wil vir die spanne en die toeskouers ʼn onvergeetlike eindstryd bied,” het Graeme Smith, toernooikommissaris, gesê.

Die Capitals het die Paarl Royals in die eerste halfeindstryd van die toernooi geklop, waarna die Sunrisers met Faf du Plessis se Joburg Super Kings klaargespeel het.

Die aksie begin nou môre om 13:30 en die stadionhekke open reeds om 10:30. Kaartjies wat vir die aanvanklike wedstryddatum gekoop is, bly steeds geldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.