Sal ons ooit weer nét kan krieket kyk?

(Foto: Michael Sheehan/AP)

Quinton de Kock gaan Saterdag saam met Rohit Sharma die kolfwerk vir die Mumbai Indians in die openingswedstryd van die Indiese Premierliga teen die Chennai Super Kings open.

Vanjaar se IPL word weens die wêreldwye Covid-19-pandemie in die Verenigde Arabiese Emirate aangebied en Suid-Afrika se witbalkrieket-kaptein sal tog te bly wees dat hy uiteindelik weer vir ’n slag op sy spel kan konsentreer. Hy het immers op 7 Maart laas in ’n wedstryd gespeel.

Die Proteas het toe onder sy leiding vir Australië met ses paaltjies geklop om die eendagreeks met 3-0 te beklink. Ná ’n rampspoedige Wêreldbeker-toernooi het hy saam met Mark Boucher (afrigter), en jong spelers soos Janneman Malan en Kyle Verreynne gesorg dat plaaslike krieketondersteuners darem weer iets gehad het om oor te glimlag.

Maar waar daar ’n opwaartse kurwe op die speelveld was, gaan dinge met rasse skrede in Krieket Suid-Afrika (KSA) se raadsale agteruit.

Ja, Dubai mag dalk derduisende kilometers van Johannesburg verwyder wees, maar De Kock sal net te bewus van elke administratiewe KSA-blaps wees; die internet kan met tye ’n genadelose bron van inligting wees.

Die 27-jarige paaltjiewagter is nog net vir ’n reeks of twee die kaptein van Suid-Afrika se witbalkrieketspanne – die toetskaptein is nog nie aangewys nie – maar in hierdie kort rukkie het daar al genoeg in KSA se raadsale gebeur om enige speler, om nie eens van ’n nasionale kaptein te praat nie, hoofbrekens te gee.

Buiten die wêreldwye Covid-19-pandemie wat sorg dat bitter min krieket in Suid-Afrika gespeel word (afgesien van die 3TeamCricket-inisiatief, waar die Black Lives Matter-beweging in elk geval meer aandag as die spel self geniet het), strompel KSA van die een administratiewe fiasko na die ander.

(Foto: @OfficialCSA/Twitter)

’n Uitvoerende hoof word van wanbestuur beskuldig en afgedank, die organisasie se president en waarnemende uitvoerende hoof bedank, kultuurkampe word gehou, die waarnemende president moet inderhaas om verskoning vra nadat ’n raadslid op sosiale media na ’n groot borg kap wat besluit het om nie sy borgskap te hernieu nie, terwyl transformasie op almal se lippe is.

Maar “nog is het einde niet in zicht” soos die Nederlander sou sê.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het ook genoeg gehad en dus besluit om ’n taakspan op die been te bring om KSA se doen en late te ondersoek.

Die allernuutste is dat KSA net pleinweg weier om die inhoud van die forensiese verslag (wat onder meer tot Thabang Moroe se afdanking gelei het) met die wêreld te deel; ’n versetbeweging wat ongetwyfeld ’n pluimpie verdien, maar wat terselfdertyd ook vir Saskok kinderlik ongelukkig maak.

Al hierdie drama moet ook ’n negatiewe invloed op die spelers hê.

Kom ons verduidelik dit so: Jannie is ’n sterkrieketspeler vir Laerskool Worshondpoort se eerste span. By sy ouerhuis neem Pa en Ma ’n paar vreemde besluite – en ons praat nie hier van ’n ongevraagde ekstra wiskundeklas of twee nie, maar sommer van simpel goed.

Die volgende dag word Jannie, wat in sy vorige wedstryde drie agtereenvolgende vyftigtalle geslaan het, vir ’n nulletjie deur Frikkie van Laerskool Goudvissiepark skoongeboul.

Waarom? Want hy dink heeltyd aan die probleme by sy ouerhuis.

Quinton de Kock. Argieffoto.

Dertig nasionale spelers het juis in ’n verklaring gesê dat KSA sy huis in orde moet kry. Hulle het as’t ware by die nasionale krieketbeheerliggaam gepleit om besluite in belang van die spel te neem.

Ja, politiek en sport is eintlik onafskeidbaar van mekaar – dit is oor die hele wêreld so. Maar kom ons wees eerlik: Dit is lekker om krieket te kyk.

’n Mens klap hande as De Kock ’n reuse-ses slaan, jy kyk grootoog wanneer Kagiso Rabada ’n kartets teen vinniger as 145 km/h afstuur en gooi jou hande in die lug wanneer Temba Bavuma ’n briljante vangskoot net tru van punt benut. Dit is immers waarvoor jy geld betaal om die spelers te sien speel; nie om ’n politieke debat met hulle te voer nie.

Die kanse is goed dat die spelers ook na sulke dae verlang, maar of ons dit binnekort weer sal sien, is ’n ope vraag.

Wonderwerke gebeur steeds, maar in die huidige omstandighede sal dit baie geloof en dalk meer as een ridder (op enige kleur perd) verg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wilhelm ·

Sport en politiek is onafskeidbaar van mekaar soos jy sê, maar dit is slegs omdat ons as toeskouers dit toelaat deur aan te hou kyk, en boonop te betaal vir die voorreg om die nonsens te kyk. As die produk nie vir jou reg is nie, hou op koop daarvan!

Tommie ·

Daar is baie ander sport om na te kyk waar Kwotas en politiek nie ‘n rol speel nie soos bevoorbeeld gholf en MotoGP

Die Wolf ·

Sal net gebeur as al die spelers n stand inneem omte staak tot die gemors opgeruim is. Die kniebuig storie is ook net daar om hulle aandag sf te lei.

Niklaas ·

Neewat, hou verby. Krieket in SA gaan nooit weer dieselfde wees nie.

david ·

Solank as die edik van Transformasie alles oorheers–vergeet van normaliteit.
Solank as ART 9.2. van die grondwet wat ewigdurende “slagofferskap” aan swartmense
waarborg bestaan–vergeet van enige normale sport geleenthede….en toeskouers.

Die witmense van hierdie land het reeds lankal afgesien van kleurvoorkeure by sportmense–
as hy goedgenoeg is—kies hom!Ons wil sy talente geniet.
Dit is egter die denksprong wat die Swartmense en hulle administrateurs moet doen–
los julle kleurbeheptheid….
Hoekom kan ons nie maar soos die Amerikaners wees nie;die Afro-Amerikaners is ongeveer 12%
van hulle bevolking.Tog is hulle basketbal span na elke olimpiade meerendeels swart–doodeenvoudig
omdat hulle die beste is ! En niemand kla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.