Selfs Aussies krap kop oor vurige blad

Australië se boulers het binne ’n japtrap 20 Suid-Afrikaanse paaltjies laat spat. Foto: Twitter.

Daar het 34 paaltjies binne twee dae in Brisbane geval en selfs ʼn voormalige Aussie-speler het die vurige Gabba-baanblad bevraagteken.

“Dit het vir baie pret gesorg, maar dinge was heeltemal te vinnig verby,” het Tom Moody getwiet.

Volgens die 57-jarige oudspeler was die baanblad hopeloos te groen en hy het met Dean Elgar saamgestem: Die snelboulers het inderdaad hul lippe afgelek toe hulle dié kolfblad gesien het.

“Suid-Afrika en Australië beskik oor uitstekende snelboulers en hulle het nie gunstige toestande nodig om hul stempel op ʼn toets af te druk nie.”

Vroeër het Elgar gesê dat die baanblad ʼn bietjie té lewendig was. As ʼn gedugte kolfspan soos Australië dan gesukkel het om die toestande te bemeester, dan kan ʼn mens mos nie te veel van die brose Protea-wilgerlatswaaiers verwag nie.

“Dit was ongetwyfeld ʼn uitdaging vir die kolwers. Dit is natuurlik oukei as daar ʼn goeie tweestryd tussen kolf en bal is, maar ek glo nie dat dít ʼn regverdige stryd was nie,” het Elgar gesê.

Travis Head het die beste van al die kolwers in die wedstryd gevaar. Hy het 92 lopies vanaf slegs 96 aflewerings in die Aussies se eerste beurt gemoker en sy beurt het 14 grenshoue ingesluit.

Anrich Nortjé en Kagiso Rabada het weer die spoedkrane oopgedraai. Foto: Twitter.

“Dit was ongelooflik moeilik gewees en die kolwers moes omtrent vir jou bontstaan. Die blad het baie hulp aan die snelboulers verleen, maar gelukkig kon ek ʼn goeie bydrae lewer,” het die 28-jarige kolwer gesê nadat hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Kagiso Rabada het twee keer in die toets van David Warner ontslae geraak, terwyl Anrich Nortjé ook met sy vaart en aggressie beïndruk het.

Dalk het van die Australiese kolwers se selfvertroue ook nou ʼn knou weg.

“In Gerald Coetzee het ons nóg ʼn vurige snelbouler waarop ons kan staatmaak. Dit is lekker om hom deel van die opset te hê.”

Maar volgens Moody moet die Proteas eerder indringende aandag aan hul kolfwerk gee. Die Suid-Afrikaners is immers nou vir die sesde keer op ʼn streep vir minder as 200 lopies uitgeboul.

“As Suid-Afrika in die volgende twee toetse wil verbeter, sal hulle na nog ʼn spesialiskolwer moet kyk. Terselfdertyd sal hulle ook meer vertroue in Keshav Maharaj se draaibalwerk moet plaas.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.