Stubbs verdien kans in Protea-elftal

Tristan Stubbs laat waai met die wilgerlat in Indië. (Foto: Money Sharma/AFP)

Tristan Stubbs was nog altyd ʼn talentvolle krieketspeler. Wie sal sy beurt van 72 lopies van slegs 28 aflewerings vir die Proteas teen Engeland in Bristol vergeet?

Maar hy het telkemale met sy bestendigheid op die internasionale verhoog gesukkel: Een briljante grenshou is ongelukkig deur ʼn paaltjieverloor-sessie opgevolg.

In die jongste weergawe van die Indiese Premierliga (IPL) het hy egter sy mojo gevind.

Stubbs het in 11 kolfbeurte vir die Delhi Capitals 318 lopies teen ʼn gemiddeld van 53 en ʼn treftempo van 188,16 gemoker.

Hy het die bal reeds 22 keer oor die grenstou gejaag en onder die Suid-Afrikaners het net Faf du Plessis (352 lopies) en Heinrich Klaasen (339 lopies) meer lopies as hy in die skatryk mik-en-moker-toernooi aangeteken.

Daar is natuurlik ʼn paar hoogtepunte wat uitstaan.

Die 23-jarige kolwer het onder meer 26 lopies van een boulbeurt geslaan, hy spog met 71 onoorwonne lopies van slegs 25 aflewerings teen die Mumbai Indians en hy het Dinsdagaand weer met die wilgerlat teen die Rajasthan Royals uitgeblink.

Stubbs het ses grenshoue in sy blitsbeurt van 41 lopies van 20 balle gemoker en hy het saam met Jason Fraser-McGurk toegesien dat die Capitals 221/8 kon aanteken.

Sy spelpeil moet beslis die aandag van die Protea-keurders trek en met die T20-Wêreldbeker om die draai, kan hy bykomende slaankrag aan die Suid-Afrikaners se kolflys verleen.

ʼn Elftal van Quinton de Kock/Ryan Rickelton, Reeza Hendricks, Aiden Markram, David Miller, Heinrich Klaasen, Stubbs, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Gerald Coetzee, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi is seker goed genoeg om sake ver in die toernooi te vat.

Of hoe?

 

  • Opsomming van die telkaart:

Delhi Capitals 221/8 in 20 boulbeurte: Abishek Porel 65, Jason Fraser-McGurk 50 en Ravichandran Ashwin 3/24.

Rajasthan Royals 201/8 in 20 boulbeurte: Sanju Samson 86, Riyan Parag 27 en Kuldeep Yadav 2/27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.