Trott trots op sy Pakistan-temmers

Pakistan-temmers! Afghanistan het Pakistan met agt paaltjies in ’n Wêreldbeker-wedstryd geklop. (Foto: Twitter/ICC)

Afghanistan het gewys dat sy Wêreldbeker-oorwinning teen Engeland nie ʼn frats was nie toe hy vir Pakistan met agt paaltjies in Chennai geklop het.

Noor Ahmed het eers drie paaltjies geneem, waarna Ibrahim Zadran en Rahmanullah Gurbaz ʼn openingsvennootskap van 130 lopies geniet het om Afghanistan se krieketwa deur die drif te trek.

Nodeloos om te sê is Jonathan Trott, Afghanistan se Suid-Afrikaans gebore afrigter, baie trots op sy spelers.

Die 42-jarige Kaapstad-boorling, wat ʼn baie suksesvolle internasionale loopbaan saam met Engeland geniet het, is veral beïndruk met Zadran en Gurbaz se kolfwerk.

“Hulle is baie talentvolle spelers wat oor eindelose potensiaal beskik. Ek herinner hulle gereeld om te groei en hul eie unieke stempel op die spel af te druk. Ons het nou gesien waartoe hulle in staat is en onder hoeveel druk hulle hul teenstanders kan plaas,” het Trott gesê.

Hy beskou die oorwinning ook nie as ʼn opskudding nie.

“As mense sê dit is ʼn opskudding doen hulle ʼn groot oneer aan die spelers in die kleedkamer.”

Afghanistan is tans bo Bangladesj, Sri Lanka en Engeland op die amptelike Wêreldbeker-punteleer.

  • Wêreldbeker-punteleer:
  1. Indië: 10 punte ná vyf wedstryde
  2. Nieu-Seeland: 8 punte ná vyf wedstryde
  3. Suid-Afrika: 6 punte ná vier wedstryde
  4. Australië: 4 punte ná vier wedstryde
  5. Pakistan: 4 punte ná vyf wedstryde
  6. Afghanistan: 4 punte ná vyf wedstryde
  7. Bangladesj: 2 punte ná vier wedstryde
  8. Nederland: 2 punte ná vier wedstryde
  9. Sri Lanka: 2 punte ná vier wedstryde
  10. Engeland: 2 punte ná vier wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.