Tsimba word deel van Tukkie-afrigterskorps

Kennedy Tsimba. Foto: Reg Caldecott.

Die gewilde voormalige losskakel van die Vrystaatse Cheetahs en Blou Bulle, Kennedy Tsimba, is nou deel van die Universiteit van Pretoria se rugby-afrigterskorps.

Die 46-jarige Zimbabwiese boorling sal aan die stuur van die Pretorianers se Young Guns-groep wees. Dit gaan egter nie ’n maklike taak wees nie – weens die wêreldwye Covid-19-pandemie het verskeie jong spelers lanklaas aan ’n rugbybal in ’n wedstrydsituasie geraak.

“Ek dink dit sal nog ’n rukkie wees voordat ons toegelaat word om kontakrugby te speel en tans fokus ons op die spelers se kondisionering,” het Tsimba gesê.

Vaardighede is dan op die agenda, waarna daar na wedstrydstrategieë en -planne gekyk sal word.

“Die onus rus op my skouers om die spelers se vertroue te wen sodat ek weet wat hul sterk punte is. Dit is iets wat my baie gehelp het toe ek vir die Cheetahs gespeel het en Rassie Erasmus ons kaptein was. Hy het ons toegelaat om ons eie besluite te neem en innoverend op die veld te wees.”

Die jong spelers kan beslis baie by Tsimba leer.

Hy het 97 wedstryde vir die Cheetahs en 25 vir die Blou Bulle gespeel, asook amper 2 000 punte op die rugbyveld aangeteken. In 2012 is hy in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem.

Nadat hy sy skopstewels vir ’n fluitjie verruil het, was hy onder meer die hulpafrigter van die Vrystaters se Superrugbyspan, terwyl hy ook die hoofafrigter van die sterk Rustenburg Impala-klubspan was. Meer onlangs was hy St Alban’s College in Pretoria se direkteur van rugby.

“Ek het doelbewus die skuif van professionele rugby na klub- en skoolrugby gemaak. Ek wou met verskillende soorte spelers werk om die dinamiek van die spel beter te verstaan. Dit het van my ongetwyfeld ’n meer afgeronde afrigter gemaak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.