Voormalige Engelse krieketspeler sterf op 57

David Capel. Foto: Twitter.

Die Engelse krieketspeler David Capel is gister ná ’n lang siekbed oorlede. Die 57-jarige veelsydige speler is in 2018 met ’n breingewas gediagnoseer.

Capel het tussen 1981 en 1998 in meer as 300 eersterangse wedstryde, grotendeels vir sy geliefde Northamptonshire, gespeel. Hy het in hierdie tydperk meer as 12 000 lopies geslaan en meer as 500 paaltjies vir sy span geneem.

As speler was hy ongelukkig om in dieselfde era as waarskynlik Engeland se beste speler ooit, sir Ian Botham, te speel. Tog het hy steeds sy land in 15 toetse en 23 eendagwedstryde verteenwoordig.

Hy het weliswaar net 21 toetspaaltjies teen ’n gemiddeld van 47 geneem, maar hy het drie keer van sir Vivian Richards ontslae geraak; ’n kolwer vir wie se paaltjie selfs die beste boulers in wêreldkrieket deksels hard voor moes gewerk het.

Hoewel hy dus nie ’n bekende op die internasionale verhoog was nie, is hy ongetwyfeld ’n legende in Northamptonshire-kringe.

Hy was 32 jaar lank deel van die klub se binnekring – eers as speler en toe as die hoofafrigter.

Hier het hy skouers met spelers soos Allan Lamb (wat in Suid-Afrika gebore is) geskuur, terwyl hy in 2006 vir Kepler Wessels as die klub se hoofafrigter vervang het.

“Ek is baie hartseer om van my spanmaat se afsterwe te verneem. David Capel was ’n ware heer op en van die veld. Ons gaan jou baie mis,” het Lamb op Twitter geskryf.

Op sy beurt het Tom Harrison, die uitvoerende hoof van die Engelse krieketraad, gesê dat Capel een van die beste veelsydige spelers van sy era was.

“Ek het die voorreg gehad om saam met hom te speel. Hy was ’n ongelooflike vasberade en kompeterende speler gewees, terwyl hy op hierdie eienskappe staat gemaak het om teen sy siekte te baklei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.