Warner se kolf doen die praatwerk

Australië se David Warner op die aanval teen Pakistan. (Foto: Colin Murty/AFP)

David Warner het sy kritici stil gespeel toe hy ʼn vinnige honderdtal op die eerste dag van die eerste toets teen Pakistan in Perth aangeteken het.

Die 37-jarige openingskolwer – wat in sy laaste rooibalkrieketreeks vir Australië speel – moes vroeër in die pers bontstaan nadat oudspanmaat Mitchell Johnson ʼn vurige rubriek in The Western Australian geskryf het.

Warner het nou sy honderdtal met ʼn grenshou van Aamer Jamal se boulwerk aangeteken en hy het in aanloop tot die mylpaal 15 grenshoue gemoker.

Hy het veral Shaheen Shah Afridi se boulwerk geniet en hy het 38 lopies van 41 aflewerings van die linkshandige snelbouler se boulwerk aangeteken.

In sy 36 kolfbeurte vóór die Perth-kragmeting kon hy sy lopies teen ʼn gemiddeld van net meer as 26 slaan. Maar vandag het hy net weer sy status as een van Australië se beter rooibalkrieketspelers onderstreep.

“Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoe ’n sukkelende openingskolwer toetskrieket sommer so op sy eie voorwaardes vaarwel roep? In dieselfde asem kan ’n mens ook vra hoe ’n speler – wat ’n reuserol in een van die grootste skandale in Australiese krieket gespeel het – soos ’n held gegroet word?” het Johnson geskryf.

Ja-nee, Warner se kolf het nou die antwoordwerk namens hom gedoen.

  • Opsomming van die telkaart:

Australië 198/2 ná 44,5 boulbeurte: David Warner 103*, Usman Khawaja 41 en Faheem Ashraf 1/44.

  • Spanne:

Australië: David Warner, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Steve Smith, Travis Head, Mitchell Marsh, Alex Carey, Mitchell Starc, Pat Cummins (kaptein), Nathan Lyon en Josh Hazlewood.

Pakistan: Abdullah Shafique, Imam-ul-Haq, Shan Masood (kaptein), Babar Azam, Saud Shakeel, Sarfaraz Ahmed, Agha Salman, Faheem Ashraf, Shaheen Shah Afridi, Aamer Jamal en Khurram Shahzad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.