‘Wisden’ loof Steyn se boulwerk in Indië

Dale Steyn in aksie. (AP Photo/Themba Hadebe)

Laat ons nie doekies omdraai nie, toe Dale Steyn op volle vaart was moes dit ’n vreesaanjaende gesig vir kolwers gewees het. In 93 toetse vir die Proteas het hy 439 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 22,9 laat spat.

Die ware toets van ’n snelbouler is egter nie die vriendelike toestande van Lord’s of die Wanderers nie, maar eerder die stofblaaie van Indië. En Steyn slaag dié toets met lof.

Dink net aan die verwoestende omgekeerde swaai wat hy in 2010 bewerkstellig het toe hy 7/51 in die Nagpoer-toets geneem het.

In hul reeks van die die top-boulvertonings van die 2000’s het die gesaghebbende Wisden Almanack egter die Phalaborwa-sneltrein se vertoning van 2008 uitgesonder.

Saam met Harbhajan Singh, Muttiah Muralitharan, Shoaib Akhtar en Glenn McGrath se boulskofte, tel Steyn se 5/23 teen die Indiërs in Ahmedabad onder Wisden se bestes.

In die eerste toets in Chennai het ’n veglustige Virender Sehwag weliswaar die Proteas wild en wakker gemoker om 319 van die tuisspan se 627 lopies aan te teken, maar Steyn het die bordjies in die tweede toets verhang.

Die 24-jarige Steyn het goed met Makhaya Ntini gekombineer om Indië vir slegs 76 lopies uit te knikker.

Nadat hy van die gevaarlike Sehwag ontslae geraak het, het hy met ’n juweel vorendag gekom om vir Rahul Dravid uit te haal.

Amper net soos die legendariese aflewering waarmee hy vir Michael Vaughn in sy eerste toetsreeks teen die Engelse toerspan uitoorlê het, is die Dravid-paaltjie ook iets wat in die krieket-annale opgeteken is.

’n Aflewering wat op ’n goeie lengte geplant is, het net genoeg gedoen om Dravid se wegpen te tref.

“Dale Steyn was onspeelbaar in daardie toets en dit het die grondslag vir sy heldedade in 2010 gelê,” het die publikasie geskryf.

Wisden se top-boulskofte van die 2000’s:

  1. Muttiah Muralitharan: 8/70 teen Engeland
  2. Harbhajan Singh: 8/84 teen Australië
  3. Glenn McGrath: 5/53 teen Engeland
  4. Dale Steyn: 5/23 teen Indië
  5. Shoaib Akhtar: 6/11 teen Nieu-Seeland

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.