Woolmer se nalatenskap leef voort

Bob Woolmer. Foto: Twitter.

As speler was Bob Woolmer ’n bestendige kolwer, sonder om juis die wêreld aan die brand te slaan. In 19 toetse vir Engeland het hy 1 059 lopies teen ’n gemiddeld van 33,1 aangeteken. Hy het weliswaar sy drie honderdtalle teen Australië in die Reeks om die As geslaan, wat beteken dat hy op sy beste in belangrike wedstryde was.

Maar dit is as afrigter waar hy sy stempel dubbel en dwars afgedruk het. Hy het 104 van sy 161 wedstryde (toetse en eendagkragmetings) aan die stuur van die Proteas gewen. Saam met spelers soos Hansie Cronjé, Allan Donald, Lance Klusener, Shaun Pollock en Gary Kirsten het hy gesorg dat Suid-Afrika ’n gedugte span in wêreldkrieket geword het.

Wie kan die reeksoorwinning van 5-0 teen die Wes-Indiese Eilande vergeet, of die senutergende halfeindstryd van die 1999-Wêreldbeker teen Australië? As die kommunikasie tussen Donald en Klusener net beter was, kon die Proteas dalk al ’n internasionale trofee in die vertoonkas gehad het.

Die man wat as “Die Wetenskaplike” weens sy gevorderde afrigtersmetodes in krieketkringe bekend gestaan het, het ná sy vyf jaar in Suid-Afrika die afrigtersleisels van Pakistan oorgeneem.

Woolmer sou verlede Donderdag sy 72ste verjaardag gevier het, maar hy is in 2007 in omstrede omstandighede gedurende die Wêreldbeker-toernooi in Wes-Indië oorlede.

Pakistan, wat selfs wanneer hulle op hul beste is maar wispelturig kan wees, het pas ’n skoknederlaag teen Ierland gely.

Woolmer is kort daarna bewusteloos in sy hotelkamer in Jamaika aangetref. Hy is dood verklaar toe hy by die hospitaal aangekom het.

Hoewel plaaslike polisie aanvanklik vermoed het dat hy vermoor is, is later bevind dat hy aan natuurlike oorsake dood is.

Tog leef sy nalatenskap as afrigter voort en baie krieketspelers kan getuig dat hulle van sy afrigtingsboeke en -video’s gebruik gemaak het.

As afrigter het Woolmer die beste uit spelers soos Allan Donald gekry. Foto: Twitter.

“Bob het die beste uit sy spelers gekry. Hy was die eerste afrigter wat kolwers toegelaat het om die veeghou te speel – van die gewone veeghou tot die omgekeerde veeghou. Hy het selfs veeghou-kampe aangebied,” het Allan Donald gesê.

Die “Wit Blits” en Woolmer het ’n spesiale verhouding geniet.

Hulle was nie net saam in die Protea-kamp nie, maar ook toe Donald vir Warwickshire in Engeland gespeel het.

“Hy het eiehandig die wyse verander waarop ons die spel benader het. Bob het toegesien dat ons die beste span in toets- en eendagkrieket geword het. Hy was ’n ongelooflike individu.”

Volgens Donald het Woolmer foute toegelaat, mits jy daaruit geleer het.

“Ons het geoefen om te wen, maar ook om te verloor. Deur só te oefen kon ons elke faset van krieket waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

‘n Merkwaardige man!
Bob Woolmer is beslis vermoor deur Pakistanse krieket-fanatici, niks sal my anders oortuig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.