Mening: Frustrasie maak plek vir hoop en voorspoed

rugbypale

Argieffoto.

Die afgelope twee maande of so was in alle opsigte, en boonop in vele sportsoorte, ʼn interessante, dikwels ook irrasionele, en in die twee Australasiese rugbylande selfs woede-gevulde tydperk wat jou kopskuddend laat wonder of sport in die eerste plek wérklik oor spelers se eie genot en dié van hul ondersteuners gaan.

Natuurlik hou klagtes en vreugdes in en oor sport individuele voor- en afkeure in. Ek spring in hierdie meningsrubriek maar eers by die frustrasies weg totdat daar by die beter nuus en goeie vooruitsigte, soos onder meer ons rugby, uitgekom sal word.

PROBLEME OP VELE VLAKKE

Olimpiese Spele
Laat ʼn mens liewer as Suid-Afrikaner nie te veel tot sover as die Olimpiese Spele terugdink nie.
Hierdie een voorbeeld is seker genoeg: As jou twee waterpolo-spanne, mans en vroue, saam nege wedstryde speel, al nege verloor, saam slegs 27 doele aanteken en 213 afstaan met ʼn totale netto-doeltelling van minus 180, is daar mos groot fout, of hoe?

Saskok moet, benewens sy ander foute, pa staan vir hierdie geldmorsery vir die twee spanne wat totaal uit hul diepte by ʼn Spele was waar van die Suid-Afrikaanse spanlede in sommige sporte self tot hul reisgeld moes bydra.

Krieket

Mark Boucher en Paul Adams vier Andrew Flintoff se paaltjie. Foto: Martyn Hayhow/AFP.

Van die dinge is seker waar, ander dalk aangedik en sommige stellig baie skeefgetrek. Ek verwys hier na Krieket Suid-Afrika (KSA) se sittings wat deel uitmaak van hul “projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou” wat deur advokaat Dumisa Ntsebeza, KSA se transformasie-ombudsman, gelei word.

Elke krieketvolgeling sal sy eie siening hê of dié projek werklik nodig was met inagneming van die genoemde voorbehoude oor die werklikheid wat hierbo genoem is. Nietemin, die beskuldigings, waar of nie, is onverkwiklike leesstof.

Klubrugby – WP sê nee

Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) gaan onverstoord aan met hul Carltonliga waar die nuwe spanne in die liga se tandekryery die enigste probleem skyn te wees. Die Sharks, Pumas, Leeus, Griekwas, Olifante (Oostelike Provinsie), Valke en Luiperds was onder die spanne wat vanjaar ligarugby aangebied het.

Die BBRU se benadering om sy ongebruikte gekontrakteerde spelers in klubrugby te gebruik (hul beroepspelers is almal by een van die klubs ingedeel), het onder andere verseker dat die manne wat nie vir die Bulle speel nie, fiks en skerp is wanneer hulle later weer nadergetrek word – ʼn yslike voordeel met die baie eersterangse rugby waar spanne voortdurend verander moet word om teen speler-sufheid en beserings staande te bly.

Nie minder nie as 15 Carltonliga-spelers is by die skrywe van hierdie meningsrubriek reeds deur provinsiale unies gekontrakteer. Die Bulle het self ook al van hul amateurspelers vir eersterangse wedstryde in die Curriebeker- en die Unlocked Superreeks gekies.

▪ Intussen sukkel die Westelike Provinsie steeds weens die gerondtrappery van sy bestuur wat meer in prokureurskantore en in die hof is as wat hulle hul aandag by die rugby kan bepaal.

Foto: Hansie Linde.

Daar is so twee weke gelede deur die WP-klubs besluit dat hulle vir die tweede agtereenvolgende jaar nie ligarugby sal (kan of wil?) speel nie. Hier en daar is daar darem onderling-gereëlde vriendskaplike wedstryde.

Zelt Marais, die WPRVU se president, het ook duidelik heeltemal sy houvas op die klubs verloor. Dit is aangehelp deurdat hy in Julie ’n brief as die “waarnemende uitvoerende hoof” van WP geteken het. Die klubs was ontstoke dat Marais sonder hul wete as waarnemende uitvoerende hoof aangestel is, en of die aanstelling deur die uitvoerende bestuur goedgekeur is.

Hul frustrasie en wantroue in die WPRVU-bestuur is beaam toe hulle twee weke gelede met 55-9 goedgekeur het dat SA Rugby ʼn oorsigtelike rol in die WP se sake speel.

Die vergadering was ook omstrede omdat van die klubs nie op die virtuele vergadering vrae kon vra nie en ander toegelaat is om eers op ʼn latere stadium, net betyds vir die stemmery, by die vergadering aan te sluit.

Van die klubs se mikrofone is glo deur die “beheerders” van die virtuele vergadering afgeskakel sodat hulle nie hul menings kon lug nie.

Daar blyk darem nou weer ʼn vaag flikkerende lig in die WP se tonnel te wees met onderhandelinge wat glo onder meer die Flyt-ongelukkigheid uit die weg sal ruim – maar ook hier is die skeefloopspook reeds sterk aan die werk.

Die Leeus-toer en die Rugbykampioenskap

Die All Blacks het, soos laas jaar, weer luid hul ongelukkigheid oor die Rugbykampioenskap se bepalings en speelvelde gedeel en daar was ʼn onvergenoeglike geskarrel om die toernooi te red.

Daar was vanuit alle oorde kritiek oor die Springbokke se speelstyl teen die Poemas en voor dít die Britse en Ierse Leeus, waar hulle nietemin vier drieë teen twee gedruk het en, soos teen Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd, ook die Leeus voorlangs verniel en geklop het. Daar was ook omstredenheid oor die aanstelling en daarna die vertoning van wedstrydbeamptes tydens die Leeus-reeks.

BETER NUUS VIR RUGBY

Lesse uit die Leeus se toer

Foto: GB Jordaan.

Dit is belangrik dat ons nie te veel moet kla oor so baie van ons spelers oorsee hul brood verdien nie. Inteendeel …

ʼn Paar voordele van dié stelling is:

▪ Die oorsese ondervinding wat 22 van die aanvanklike Springbok-groep van 46 oorsee opgedoen het, was goud werd in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus – en selfs teen die Poemas van wie ʼn paar ook oorsee speel.

▪ Hul insette oor sterk- en swakpunte van internasionale toetsteenstanders teen wie hulle oorsee gespeel het. Boonop ken Springbok-afrigter Jacques Nienaber ook van die spelers se sterkpunte en die Leeus se afrigtingspan uit sy en Rassie Erasmus se jare by Munster. Dit het ongetwyfeld heelwat bygedra dat daar met die wenpatroon van die Wêreldbeker volhard is.

▪ Oorsese klubs betaal Suid-Afrikaanse spelers groot bedrae geld wat hulle nie hier kan verdien nie. Hulle betaal sodoende inderwaarheid vir ons spelers se ervaring, fiksheid en kennis.

▪ Daar is veel sterker teenstand, onder groter spelersdruk, wanneer hulle weekliks teen oorsese spanne met talle internasionale spelers speel.

▪ Engeland, met tientalle oorsese klubspelers van oraloor, Wallis, Ierland, die Skotte, Frankryk, selfs Italië en nou ook Japan is goeie leerskole vir Suid-Afrikaanse klubspelers.

Voorbeelde van die oorsese voordele is volop. Waar kom Cheslin Kolbe so skielik vandaan nadat hy, benewens as sewesspeler by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, en toe in 2017 by die WP laas met Suid-Afrikaanse rugby te doen gehad het?

Hoeveel van ons plaaslike ondersteuners het gewonder wie spelers soos Jasper Wiese, Joseph Dweba en Nicolaas Janse van Rensburg is en wat hulle spesiaal maak?

Die werkslas van die spelers word deur die getalle weerspieël: Daar is net 28 spelers in die drie toetse teen die Leeus gebruik. Dit klink miskien na baie, maar dit sluit die volle sewe vervangings per toets in. Agtien van die 28 het in al drie Leeus-toetse speeltyd gehad; vyf was twee keer op die veld en vyf spelers net een keer.
Hulle was die Springbokke se kerngroep.

Nienaber moes hulle egter ʼn blaaskans gun en het nóg elf ander spelers in die twee toetse teen die Poemas ingespan.

Daar lê nou nog twee toetse teen elk van die Wallabies en die All Blacks voor – vier opeenvolgende naweke van 12 September tot 2 Oktober, dan ʼn asemskepkansie van vyf weke voordat Wallis, Skotland en Engeland op die drie opeenvolgende Saterdae vanaf 6 tot 20 November in Brittanje getakel moet word.

Curriebeker-rugby steek tong uit vir kritici
Die suurgeit van die Britse en Ierse Leeus-groep, maar veral van rugby-kritici in die VK en Ierland, was te wagte. Dit was nog altyd so – die tawwe Suid-Afrikaners wat hulle boelie en skeidsregters wat kwansuis nie hul deel vir die Eilandmanne doen nie. Gaan lees maar in die annale …

(Tog het die Bokke vanjaar vier drieë teenoor die twee van die Leeus gedruk, wat in 1997 die reeks met nege drieë wat hulle afgestaan het gewen het toe hulle ook net drie keer kon druk!)
Vir baie ondersteuners was die wenreeks seker nie altyd aanskoulik nie. Spannend, klinies en opwindend was dit wel, en die Bokke se spel is volgens dieselfde reëls gespeel. Niemand dwing jou immers om met elke bal te hardloop nie.

Foto: GB Jordaan

Vir diegene wat van hardlooprugby hou, was daar die drieë-fees in ons eie Curriebeker-reeks. Goeie, lekker aanvallende rugby, ja – maar dikwels teen spanne wat nie hul huiswerk gedoen het as dit by verdediging kom nie.

Die reeks het, ondanks baie beserings en spanne wat weens kort tydperke tussen wedstryde geweldig moes roteer, miskien nie reg aan behoorlike strukture en samespel verleen nie. Tog was daar briljante stukkies spel, en het ʼn hele rits spelers die oog gevang.

Ja, dit is aanskoulik, soms selfs opwindend, maar ʼn bietjie dun om op hierdie vlak uit te stal.

Curriebeker tot die redding?

Is daar nóg Bok-talent in ons plaaslike rugby?

ʼn Onomwonde JA! Met voorbehoude.
Die Curriebeker-reeks het sprankelende hardlooprugby opgelewer en vir die oorsese suurknolle tong uitgesteek, maar daar was ook die waarskuwingsligte: Moenie dat die baie – soms skitterende – rugby wat opgedis is die feit verbloem dat ons verdediging op dié vlak allesbehalwe waffers is nie.

Kyk maar na sommige van die groot drieë-tellings in onlangse wedstryde tussen hakies. En dis nie almal ʼn geval van swakker spanne teen sterker spanne nie!

Griekwas 6, WP 3 (Totaal 9); Haaie 10, Leeus 2 (12); Cheetahs 5, Griekwas 4 (9); WP 6, Pumas 6 (12); Haaie 6, Pumas 4 (10); Leeus 2, Bulle 7 (9); Cheetahs 6, Leeus 6 (12); Bulle 8, Griekwas 2 (10); WP 4, Cheetahs 5 (9); Griekwas 6, Leeus 6 (12).

Die talent is wel daar. Dink maar aan manne wat vanjaar eers vir die latere toetse nadergetrek is. Aphelele Fassi en sy vaardighede; Jaden Hendrikse in die kort tydjie in twee toetse voordat hy beseer is; Thomas du Toit se kragtige skrumwerk en verál die omkeer van besit; Marvin Orie, harde werker en veral ʼn karnallie met omkeerbesit in die lynstane.

Kyk na die vele nuwelinge uit die Curriebeker-geledere met die oog op die afsienbare toekoms. Tientalle van hulle – reeds met ervaring, die regte omgewing, inpas by stelsels – sal duidelik reeds vir die 2023-Wêreldbeker gereed wees.

Daar is natuurlik ook uitblinkers wat nou reeds in die nasionale stelsels ingetrek kan word, en soos vanjaar sal hulle stelselmatig boontoe skuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.