’n Emosionele dag by Aussie Ope

Andy Murray het waarskynlik sy laaste professionele tenniswedstryd gespeel. Hy is ’n voormalige Wimbledon-kampioen. Foto: telegraph.co.uk

Tennis was nog altyd ’n sportsoort wat vir hope drama gesorg het. Dink aan die era van John McEnroe of Serena Williams se uitbarsting tydens verlede jaar se Amerikaanse Ope.

En die Australiese Ope stel ook nie teleur wat emosie op die baan betref nie.

Die Skot, Andy Murray, het in alle waarskynlikheid sy laaste professionele wedstryd gespeel toe hy in vyf stelle deur Roberto Bautista Agut geklop is.

Murray het al vir ’n geruime tyd las van ’n heupbesering en het na afloop van die wedstryd gesê dat hy nie seker is of hy weer op ’n tennisbaan in aksie sal wees nie.

Serena Williams jag haar sewende Australiese Ope-titel. Foto: Facebook.

“Ek wil almal bedank wat vanaand hier was om my te ondersteun,” het hy gesê terwyl die Melbourne-skare hom staande toejuig.

“As hierdie wel my laaste wedstryd was, dan is ek trots want ek het letterlik my uiterste bes gegee. Dalk sien ek julle almal weer; en ek sal enige iets in my vermoë doen [om daardie droom te verwesenlik]. Om dit te doen, sal ek egter vir ’n baie groot operasie moet gaan.”

Daar is ’n video op die baan se groot skerm gewys waar van die wêreld se beste spelers hulde aan Murray bring.

Die 31-jarige Murray is ’n Wimbledon-kampioen in 2013 en 2016 en was vir lank die topspeler in die wêreld.

Intussen het Suid-Afrika se Lloyd Harris harde bene teen Daniil Medvedev gekou. Die jong Kapenaar het 6–1, 6–2 en 6–1 verloor.

“Vandag was baie moeilik vir my gewees. Daniil het in die eerste stel ’n paar sleutelpunte gewen wat my onmiddellik op die agtervoet geplaas het. Hy het my net nie die kans gebied om my beste tennis te speel nie,” het Harris gesê.

Kevin Anderson speel more in die tweede ronde teen Amerika se Frances Tiafoe.

Roger Federer, Stan Wawrinka, Novak Djokovic en Serena Williams is almal deur na die volgende ronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.