All Blacks kies drie broers vir die beslissende toets

Die drie Barrett-broers van die All Blacks. Van links is Jordie, Beauden en Scott.

Die All Blacks kan Saterdag straks drie Barrett-broers tegelykertyd op die veld hê in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus op Edenpark.

Jordie Barrett, die jongste van die drie wat nog net 17 minute se toetsrugby teen die slaansakke Samoa agter die rug het, is as heelagter gekies in die agterlyn waar sy beroemde losskakel-broer Beauden die kitaar slaan.

Die slot Scott is weer op die bank en sal seker, soos in die tweede verloortoets, ook speeltyd kry. Miskien is die ander twee dan nog albei op die veld …

Jordie Barrett vervang Israel Dagg op heelagter nadat Dagg die vesting moes beman nadat Ben Smith in die eerste toets harsingskudding opgedoen het.

Dagg skuif Saterdag terug vleuel toe in die plek van Waisake Naholo, en op die ander vleuel kry Julian Savea weer sy kans nadat die held van die eerste toets, Rieko Ioane, gepos is.

Ngani Laumape speel senter in die plek van Sonny Bill Williams wat vier weke lank geskors is. Laumape het verlede week ná sowat 25 minute sy buiging van die bank af gemaak toe Williams afgestuur is.

All Blacks – 

15 Jordie Barrett, 14 Israel Dagg, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Ngani Laumape, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Malakai Fekitoa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.