All Blacks se sterk punt is dalk hul swak punt

Beauden Barrett (Foto Facebook)

Die All Blacks sal dit nooit openlik erken nie, maar Beauden Barrett, Wêreldrugby se speler van die jaar in 2016, se leemtes begin al hoe meer soos ʼn onderrok uithang.

Dit sal baie dwaas wees om hom af te skryf want sy individuele briljantheid kan enige wedstryd laat swaai. Maar soms wonder ek of sy heil nie dalk op heelagter lê nie.

Gaan kyk maar na sy vertonings in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus in Junie; kyk maar hoe hy soms gesukkel het in Saterdag se toets teen die Argentynse Pumas in New Plymouth. Gaan kyk ook maar hoe hy in ʼn paar Superwedstryde die kluts kwyt geraak het toe hy onder druk geplaas is.

Geen losskakel kan gedy as dit gebeur nie. Nie Naas Botha nie, nie Dan Carter nie en ook nie Jonny Wilkinson nie. Ja, hulle het die vermoë, visie en vaardighede gehad om dit beter as ander losskakels te verwerk en dis hoekom Barrett my nog nie heeltemal oortuig het nie.

Wanneer hy saam met die skrumskakel Aaron Smith in ʼn wenspan speel met ʼn pak wat oorheers, is Barrett van prima gehalte. Dan skeur hy die teenstanders se verdediging oop en dan gee sy hoek- en rolskoppe die deurslag.

Maar hoe voer hy sy primêre take uit? Hoe gee hy die bal na links uit? Hoekom lyk Sonny Bill Williams na ʼn bra gemiddelde binnesenter wanneer hy langs Barrett speel?

Toe Lima Sopoaga Saterdag in Barrett se plek opgestuur is, was daar ewe skielik meer rigting agterlangs. Lima Sopoaga?

Dis hoekom die skrumskakel Aaron Smith pure goud vir die All Blacks is.

Hy moet die toutjies trek, hy moet Barrett op die voorvoet plaas en die Bokke en ander teenstanders met sy breekslae en skopwerk aan die raai hou.

Dis hoekom die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, nie met hom nie teen die Pumas wou waag nie.

Hy is die goue draad waarmee Barrett weef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Valerie ·

Ten minste het die All Blacks ‘n losskakel, en ‘n briljante een daarby.

Johannes ·

Ek stem nie saam nir.Barrett is overated kan nie sy agterllyn weg stuur nie en al wat hom goed laat lyk is daai skuins skoppe van hom..Saterdag teen die die Pumad het hy geelkaart gekry en met 14 man het hulle beter gespeel as met hom en dan was sy skopwerk pale toe ook pateties.Damian en Sopoaga is beter baie beter as Barrett.Gaan kyk weer die wedstryd dan sal julle sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.