Amper vir die Kings, en beter deur die Cheetahs

Die Kings en die Cheetahs het Saterdagaand albei hul twee wedstryde teen Walliese teenstand verloor, maar dié keer was daar wel lig in die tonnel vir veral die Kings ná ʼn moedige vertoning.

Hulle het in Newport met 22-27 teen die Dragons verloor en trouens vier drieë teen die tuisspan se drie gedruk. Vir die Cheetahs was daar ʼn tweede loesing in ʼn ry toe die Ospreys hulle in Swansea met 46-14 geklop het, maar hulle het darem dié keer me meer durf gespeel.

Ospreys teen die Southern Kings

Drie verbroude doelskoppe deur die losskakel Masixole Banda het die verskil op die telbord beteken, hoewel dit darem gesê moet word dat die Kings nooit in die wedstryd voor was nie en dat die tuisspan die oorwinning verdien het.

Die tuisspan was ná 21 minute reeds 17-0 voor en nog ʼn groot loesing het vir die Kings gewink. Hulle het egter stelselmatig hul ritme gevind en die telling ná 31 minute na 10-17 geneem ná drieë deur Michael Willemse en Bjorn Basson.

Die derde kwart was van die beste rugby wat die Kings nog gespeel het. Daar was ʼn vasbeslotenheid en werklike durf in hul spel en die beloning het ná 56 minute gekom.

Die Kings het by ʼn losskrum ingeklim en die tuisspan van die bal gestoot. Flink hanteerwerk en Godlen Masimla se vaart, gevolg deur Banda se enigste suksesvolle doelskop vanuit ʼn skuins hoek, het die telling na 17-elk gevoer.

ʼn Strafdoel en ʼn doel deur die Dragons in die daaropvolgende tien minute was egter te veel om in te haal. Die drie deur die Kings se Yew Penxe in die 80ste minuut het vir die Kings darem twee bonuspunte beteken ‒ een vir vier drieë en een vir ʼn neerlaag met sewe of minder punte.

Puntemakers ‒

Dragons (17) 27): Drieë: Josh Lewis, Ollie Griffiths, Aaron Wainwright. Doelskoppe: Lewis (3). Strafdoele: Lewis (2).
Kings (10) 22: Drieë: Yaw Penxe, Bjorn Basson, Michael Willemse, Godlen Masimla. Doelskoppe: Masixole Banda.

Ospreys teen die Cheetahs

Die Cheetahs is weer goed gelooi, maar daar was in die neerlaag minstens pluspunte soos veggees, self ʼn paar mooie dinge doen en meer struktuur as verlede week. En dié keer was dit teen ʼn span gelaai met toetsspelers.

Die tuisspan was binne agt minute met 7-0 voor toe hul kaptein, die Walliese flank Justin Tipuric, die Walliese kaptein in die toetse Alun Wyn Jones met ʼn kort aangee ná ʼn lynstaan oorgestuur het.

Die Cheetahs het in die tydperk nietemin veel beter as verlede week tydens die 0-38-loesing teen Zebre en het ná 18 minute sake gelykop gemaak toe die agsteman Jasper Wiese oor die doellyn is en Tiaan Schoeman verdoel het.

Nege minute later het nog een van die tuisspan se nasionale helde, die makro-vleuel George North, die bres geslaan en Scott Otten oorgestuur en toe drie minute voor rustyd self gaan druk om die telling ná ʼn strafdoel 22-7 te maak.

Die Cheetahs het egter nie gaan lê nie, maar deurkomkans was daar eenvoudig nie. Die Vrystaters het ook vir ʼn vale gekeer. Die gehalte van die tuisspan, wat vir 19 minute ná die omdraaislag geen punte kon aanteken nie, het toe na vore gekom.

Tipuric het die aanvoorwerk gedoen, en die verdoelde drie van die loskop Alex Jeffries ná 59 minute het die telling na 29-7 gevoer. Vier minute later het Tipuric self gaan druk voordat Rabz Maxwane vir die Cheetahs deurgenael en Schoeman verdoel het (36-14).

Tipuric het tien minute later in die reën wat begin val het, sy tweede drie gedruk en ook Alun Wyn Jones se tweede het vier minute later gekom.

Puntemakers ‒

Ospreys (22) 46: Drieë: Alun Wyn Jones (2), Justin Tipuric (2), Scott Otten, George North, Alex Jeffries. Doelskoppe: Sam Davies (4). Strafdoel: Davies.
Cheetahs (7) 14: Drieë: Jasper Wiese, Rabs Maxwane. Doelskoppe: Tian Schoeman (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CdV ·

Kan iemand asseblief vir my die werklike voordeel verduidelik hoekom SA in die toernooi is??? So onlangs as 10 jaar terug was ek by vriende of hul by my en was daar 7/8 ouens en hul vroue en kinders en het ons saam Curriebeker gekyk. Nou kom niemand meer bymekaar en is dit opwindender om in tuin te werk as om rugby te kyk. Nie een van ons groepie van 8 ouens kyk of volg eers die pro 14 nie. Dankie SARugby dat jul eie agenda en skreiende geldgierigheid vir persoonlike gewin van die admimistrateurs die game doodwurg.!

Herman Goosen ·

Dit is onrusbarend hoe wisselvallig die Cheetahs net nie is nie. Spelers wat kom en gaan is nie die problem nie. Daar is net te veel Naka Drotskes wat in hulle bestuur en afrigting is. Doelloos en planloos sonder enige wenkultuur.
‘n Jaar lank het ek op die Cheetahs se webwerf bepleit dat Drotske moet gaan. Maar dinge in Bloemfontein gebeur maar stadig en die doellose bestuur ploeter maar voort. Hulle het net nie die ruggraat om daadwerklike besluite te neem om die lot van hul middelmatigheid om te draai nie.

jannie ·

Dis reg CdV ek werk eerder in die tuin as om na veral die Cheetahs te kyk Die 2de span van die cheetahs gaan volgende jaar afskuif na B liga. Kan dit nie verstaan dat daar 2 cheetahs spanne moet wees nie en altwee is n bog—op Die Bspan is nou die melkkoei van die currybeker Mooi so A spanne Melk hulle

Niklaas ·

Ja , dis erg verwarrend om te hoor van 2 Cheetah spanne wat verskillende opposisie spanne op dieselfde Saterdag aandurf. Watter span is nou die senior of A-span en waar speel die beste spelers ? So , hul krag word nou verdeel en dus verloor hul elk van die 2 wedstryde elke Saterdag . Dit is natuurlik niks goed vir hul self beeld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.