Arendse onderstreep klas met rits pryse

Kurt-Lee Arendse op pad na een van sy drieë. (Foto: GB Jordaan)

Kurt-Lee Arendse is een van die spelers in die Springbokke se Wêreldbekergroep oor wie se insluiting die meeste ondersteuners saamstem.

Hy is ʼn driedrukmasjien, hy is rats en hy staan glad nie terug vir veel groter spelers nie.

Nou het die Bulls hom ook tydens hul toekenningsaand vereer en die 27-jarige agterspeler het met ʼn rits pryse weggestap.

Hy is onder meer die speler van die jaar, die spelers se speler van die jaar en die ondersteuners se speler van die jaar by die Pretoriase franchise.

Arendse is een van daardie spelers wat oor die X-faktor beskik en selfs al het die onweerswolke vroeër vanjaar ná ʼn paar Bulls-sukkelvertonings bo Loftus Versfeld opgesteek, het hy saam met Canan Moodie vir opwinding en ʼn agterlyn-adrenalieninspuiting gesorg.

Vir die Springbokke het hy reeds tien drieë in sy nege toetse – insluitend ʼn driekuns teen die Wallabies in Pretoria – gedruk en hy kan saam met Cheslin Kolbe ʼn gedugte vleuelkombinasie in Frankryk vorm.

  • Wenners by die Bulls se toekenningsgeleentheid:

Curriebeker:

Voorspeler van die jaar: Jan-Hendrik Wessels

Agterspeler van die jaar: Embrose Papier

Speler van die jaar: Embrose Papier

Kampioenebeker:

Voorspeler van die jaar: Johan Grobbelaar

Agterspeler van die jaar: Kurt-Lee Arendse

Speler van die jaar: Kurt-Lee Arendse 

Verenigde Rugbykampioenskap:

Voorspeler van die jaar: Ruan Nortjé

Agterspeler van die jaar: David Kriel

Speler van die jaar: Gerhard Steenekamp  

Ondersteuners se speler van die jaar: Kurt-Lee Arendse

Spelers se speler van die jaar: Kurt-Lee Arendse

Speler van die jaar: Kurt-Lee Arendse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.