Argentinië lusteloos teen Samoa

Die Poemas het Samoa met 19-10 gewen. (Foto: Masaki Furumaya/ Yomiuri/The Yomiuri Shimbun via AFP)

Argentinië se rugbyspan is maar bra tandeloos en tot dusver een van die teleurstellings by vanjaar se Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk.

Die Poemas het Vrydagaand in die Stade Geoffroy-Guichard in Saint-Etienne weliswaar ʼn oorwinning van 19-10 oor Samoa in Groep D behaal, maar het nie oortuig nie.

Waar was die passie van Poema-spanne van weleer? Waar was die goeie ondersteuning tussen voor- en agterspelers en vaart agterlangs?

Waar was die energieke Poemas wat die eerste keer die All Blacks (2020 en 2022) en Springbokke (2016 en in 2018) getroef het? Waar was die Poemas wat dit met oorwinnings oor Australië en Engeland opgevolg het?

Ja, die reëntoestande het ʼn demper op Vrydagaand se wedstryd geplaas, want nie een van die spanne kon daarby aanpas nie.

Wat wel kwel, is dat die Poemas in hul openingswedstryd op ʼn droë veld teen Engeland, wat feitlik die hele wedstryd met net 14 spelers moes klaarkom nadat Tom Curry vroeg afgestuur is, ook nie die mas kon opkom nie.

Die Poemas het tog in vanjaar se Rugbykampioenskap genoeg kans gehad om al hul probleme uit te stryk, maar tot dusver was daar nie veel om oor huis toe te skryf nie.

Weens die Poemas se gesukkel, is Engeland (9 punte) gerieflik voor in Groep D, gevolg deur Samoa en Japan (albei 5 punte) met Argentinië (4) en Chili wat punteloos is.

Die tafel was Vrydag vir die Poemas gedek om Samoa, ʼn eiland wat net 175 000 inwoners het en uit 120 klubs met 5 000 rugbyspelers bestaan, uit die pad te vee.

Boonop is Samoa se heelagter, Ducan Paia-aua, ná slegs 28 sekondes met ʼn geel kaart gestraf nadat hy die Poemas se losskakel, Santagio Carreras, se voete ná ʼn hoë skop onder hom uitgelig het.

Die Poemas se regtervleuel, Emiliano Boffelli, wat 16 punte aangeteken het, het in dié tydperk die Poemas se enigste drie gedruk, maar net soos teen Engeland, kon die Poemas nie daarop voortbou nie.

Die Poemas moet nog teen Chili en Japan – onderskeidelik op 30 September en 8 Oktober speel – en behoort albei wedstryde te wen.

Dit sal hulle tot die kwarteindronde laat deurdring waar hulle teen een van die voorste spanne in Groep C, naamlik Wallis, Australië of Fidji, sal speel.

Speel die Poemas soos teen Engeland of Samoa, gaan hulle huis toe.

Maar dalk verras die afrigter, Michael Cheika, ons almal.

Puntemakers:

Argentinië 19 (13):

Drie: Emiliano Boffelli. Doelskop: Boffelli. Strafdoele: Boffelli (3), Nicolás Sánchez.

Samoa 10 (3):

Drie: Sama Malolo. Doelskop: D’Angelo Leuila. Strafdoel: Christian Leili’ifano.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.