Barbarians pluk só amper ʼn haas uit die hoed

Foto:
Barbarian_FC/Twitter

Kyk, Eddie Jones is nie ’n man wat baie van verloor hou nie; tog het dié slinkse Aussie-afrigter twee agtereenvolgende nederlae op die hals geloop. Eers het sy Engeland-span teen die Springbokke in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi vasgeval en vandag het die Barbarians teen Fidji op Twickenham verloor.

Maar goeiste, dit was so hittete of die Barbarians het ’n reusehaas uit hul hoed gepluk.

Die eilandmanne het weliswaar dié vertoonwedstryd met 33-31 gewen, maar die Barbarians het in die laaste vyf minute van die kragmeting die beste rugby van die tweestryd gespeel en so amper die wedstryd gewen.

Met die telling op 33-17 in Fidji se guns en met net enkele minute op die horlosie oor, het die Barbarians uiteindelik die tipe rugby begin speel waarvoor hulle bekend is – avontuurlustige hardlooprugby.

Twee vinnige drieë – deur die uitstekende Makazole Mapimpi en die ewe briljante Morné Steyn – het die Fidjiane benoud laat rondskarrel. Maar die uurglas het ongelukkig vir Jones se spelers leeggeloop; was die wedstryd ’n minuut of twee langer gewees, en die Baa-Baas kon maklik met die louere weggestap het.

So van Steyn gepraat – hy was vandag strate beter as die wisselvallige Curwin Bosch toe hy uiteindelik sy verskyning op losskakel gemaak het. Die Bulls mag maar in hul noppies wees oor die feit dat dié veteraan volgende jaar weer op Loftus Versfeld te siene is.

Dan het Mapimpi soos oudergewoonte ’n drie of twee gedruk, terwyl André Esterhuizen en Marco van Staden ook goeie wedstryde gehad het.

Dit het dalk meer as 70 minute geneem vir die Barbarians-enjin om behoorlik op te warm, maar daardie paar laaste minute het gewys dat hulle oor ’n seepgladde V8-masjien beskik.

Die Barbarians speel op 20 November teen Brasilië in Suid-Amerika, waarna hulle teen Wallis in Cardiff sal kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Vir my het dit gelyk of André Esterhuizen wel gedruk het en die bal die witlyn geraak het en toe teruggetrek is. Die poging en Beast se verloorslag van die bal het die Babarians van ‘n oorwinning weerhou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.