Biggar sal Drake teen Bokke lei

Dan Biggar (en nie Alun Wyn Jones) sal Wallis teen die Springbokke aanvoer. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Vir die eerste keer sedert hy destyds die kapteinskapleisels by Sam Warburton oorgeneem het, sal ’n fikse Alun Wyn Jones nie Wallis op die rugbyveld aanvoer nie.

Die Rooi Drake se spanbestuur het op Dan Biggar besluit om die span op hul Suid-Afrikaanse safari teen die Springbokke te lei.

Volgens Wayne Pivac (afrigter) het Biggar hom goed van sy kapteinskaptaak in die afgelope Sesnasiesreeks gekwyt, terwyl Jones eers onlangs van ’n besering teruggekeer het.

“Alun Wyn het ’n bietjie min rugby agter die blad en ons wil eers hê dat hy weer op sy spel moet konsentreer. Hy is in elk geval ’n natuurlike leier en hy sien uit om met die Springbokke kragte te meet,” het Pivac gesê.

Wallis toer vir die eerste keer in agt jaar na Suid-Afrika en hulle sal drie toetse (in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad) teen Siya Kolisi se span speel.

“Dit gaan natuurlik ’n groot uitdaging vir ons wees, maar ons wil graag die reeks wen. Goeie voorbereidingswerk sal egter die wagwoord wees; iets soos lugdruk is beslis ’n faktor op Loftus Versfeld.”

Spelers soos Leigh Halfpenny, Ken Owens en Ross Moriarty is weens beserings nie vir die toer oorweeg nie, maar George North en Dan Lydiate sal gereed wees vir aksie.

  • Wallis-toergroep:

Voorspelers: Rhys Carre, Wyn Jones, Gareth Thomas, Ryan Elias, Dewi Lake, Sam Parry, Leon Brown, Tomas Francis, Dillon Lewis, Adam Beard, Ben Carter, Alun Wyn Jones, Will Rowlands, Taine Basham, Taulupe Faletau, Dan Lydiate, Josh Navidi, James Ratti en Tommy Reffell.

Agterspelers: Gareth Davies, Kieran Hardy, Tomos Williams, Gareth Anscombe, Dan Biggar (kaptein), Rhys Patchell, George North, Nick Tompkins, Owen Watkin, Johnny Williams, Josh Adams, Alex Cuthbert, Louis Rees-Zammit en Liam Williams.

  • Bepalings:

Pretoria (2 Julie), Bloemfontein (9 Julie) en Kaapstad (16 Julie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.