Blitsbokke wil verdediging opskerp in Hongkong

Die Blitsbokke speel hierdie naweek in die Hongkong-sewestoernooi. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke speel beslis nie meer met die selfvertroue van ouds nie; daarvoor het die rampspoedige toernooie in Los Angeles en Vancouver gesorg.

Gelukkig begin elke nuwe toernooi op ʼn skoon bladsy en die Suid-Afrikaanse sewesspan sal graag in Hongkong weer sy mojo wil terugkry.

Volgens Philip Snyman, assistent-afrigter, moet die Blitsbokke in Asië hul man op verdediging staan.

“Ons sal beslis in hierdie afdeling van die spel moet verbeter. Ons was net suksesvol met 56% van ons duikslae in Vancouver en ons sal die persentasie tot minstens 80% moet opstoot. As ons dit kan doen, sal ons heelwat minder drieë afstaan, terwyl ons ook vir onsself die geleentheid gee om punte aan te teken,” het Snyman gesê.

Weens die Suid-Afrikaners se geploeter in Noord-Amerika is hulle by ʼn baie moeilike groep vir hierdie naweek se Hongkong-skouspel ingedeel.

Hulle moet nou sake teen Ierland, Nieu-Seeland en Kenia uitspook.

“Ons is inderdaad in ʼn baie taai groep, maar ons het die afgelope paar weke baie hard gewerk. Nie net om dinge op die veld uit te stryk nie, maar ook om die spel weer te geniet. Ons eerste doelwit vir hierdie naweek is om in die bekerkwarteindstryd te speel.”

Volgens Snyman kan dinge daarna vir die sukkelende sewesspan in plek val as hulle dié mikpunt bereik.

“As ons met die nodige intensiteit speel en nie ons teenstanders op verdediging met rus laat nie, weet ek dat ons ʼn goeie naweek sal hê.”

  • Bepalings van die Hongkong-sewestoernooi:

31 Maart:

09:04: Suid-Afrika teen Ierland

1 April:

05:04: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

09:25: Suid-Afrika teen Kenia

Blitsbok-groep: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Shakes Soyizwapi (kaptein), Mfundo Ndhlovu, Christie Grobbelaar, Shaun Williams, Travis Ismaiel, Ricardo Duarttee, Ethan James, Sebastiaan Jobb, Tiaan Pretorius en Donovan Don.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.