Bokke teen die Iere: Fort Loftus en Kingspark kan die verskil wees

Ierse rugbyondersteuners tydens ‘n vorige wedstryd. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Die Iere het Saterdagaand in Dublin die kroon gespan toe hulle hul vyfde Sesnasieskroon in 11 jaar gewen het, maar is dit genoeg om die Springbokke in die reeks van twee toetse in Julie te klop?

Die Iere het die vreugdesvure hoog laat brand toe hulle die Skotte in albei spanne se laaste kragmeting in die reeks met 17-13 geklop het om die Sesnasies-reeks te wen. Dit was hul 19de titel in die reeks.

Daar was baie pluspunte vir die Iere, soos die wyse waarop hulle ná verlede week se slae teen Engeland herstel het.

Tog het die Skotte daarin geslaag om ʼn paar leemtes oop te vlek, soos om die Iere se besit te vertraag en om hulle agter die voordeellyn onder druk te hou.

Die groot vraag wat rugbyliefhebbers nou vra, is of die Iere genoeg skietgoed het om die Wêreldbekerwenners op twee agtereenvolgende Saterdae in Suid-Afrika te kan klop.

Tuisveldvoordeel kan die Springbokke se grootste bondgenoot wees wanneer hulle die Iere op 6 Julie op Loftus Versfeld pak en die week daarna op Kingspark in Durban afsluit.

Die Springbokke het hul laaste drie kragmetings met die Iere in 2017 (3-38), 2022 (16-19) en in 2023 (8-13) verloor. Twee hiervan was in Dublin en die derde was tydens die Wêreldbekertoernooi in Frankryk.

In tien toetse in Suid-Afrika kon die Iere die Bokke nog net een keer klop. Dit was in 2016 op Nuweland toe die Iere met 26-20 baas was.

Dit was voordat Rassie Erasmus (en Jacques Nienaber) die Springbok-leisels geneem het.

Dit was voordat die Bokke balvaardige spelers soos Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Canan Moodie en Damian Willemse agterlangs ingespan gehad het.

Dit was nog voordat die Bokke hul uiters doeltreffende plaasvervangersbank (oftewel die Bomb Squad) ingespan het.

Daar is soveel faktore wat ʼn rol in die uitslag van die toetse kan speel.

Gaan die Iere ʼn nuwe kaptein in die plek van Peter O’Mahony kies wat aangedui het dat hy gaan uittree? Gaan hulle volhou met die relatief onervare Jack Crowley op losskakel in die plek van Johnny Sexton? Gaan die veteraan Conor Murray die tweede skrumskakel wees en is daar genoeg diepte om die Bokke se Bomb Squad te ontspoor?

Baie gaan ook van beserings in die komende Verenigde Rugbykampioenskap en ander Europese reekse afhang. Gaan die spelers wat in Engeland en Frankryk speel, betyds vrygestel word om behoorlik saam met die span voor te berei en watter skeidsregters gaan die twee toetse hanteer?

In die tien toetse wat die Springbokke en die Iere in Suid-Afrika slaags was, het die Springbokke nege daarvan gewen en die Iere net een.

Die Springbokke het 257 punte aangeteken en die Iere 145.

Die Iere het op hul tuisveld die hef in die hand, want hulle het sedert 2004 agt van die 12 toetse tussen die lande gewen.

Maar nou is die skoen aan die ander voet.

Maklik sal dit beslis nie wees nie, want die Iere speel teen ʼn baie vinnige tempo en het spog ook met ʼn byna onpriembare verdedigingspatroon.

Maar op Loftus en Kingspark?

Dit kan baie maklik 2-1 wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.