Bokke wil die Aussies stukkend skrum

images[6]

Die Springbokke meen dat hulle die Aussies voorlangs gaan sag maak om sodoende ‘n platvorm te skep om punte aan te teken.

Hulle wil voortbou op die vorige kragmeting toe hulle die Australiërs ore aangesit het in die vaste aspekte van die spel, die voordeellyn suksesvol aangeval het en sodoende die Wallabies se verdediging soms oorhoops gehad het.

In die Suncorpstadion was die Bokskrum giftig en hulle het voortgebou op die toetservaring om vroeg-vroeg  die Wallabies se skrum onder druk te kon plaas.

Beide Heyneke Meyer en Ewan McKenzie het daarop voortgeborduur na die wedstryd en sterk melding gemaak van die voorvoetbesit wat die Springbokke gekry het deur goed te skrum, die afbreekpunte te domineer en die Wallabies in die middelveld hard te slaan.

Dit is egter nou drie weke later en die Bokke sal wil  voortbou op hul goeie vertoning, veral nadat die openingskrums teen die All Blacks in Auckland net so goed afgeloop het. Dit is te betwyfel of die Wallabies veel sou verbeter het, aangesien die Argentyne hulle in Perth maar laat bloed sweet het.

Dit lyk asof Meyer vir Bismarck van die bank af wil speel en Adriaan Strauss beginkans wil gee op Nuweland. Dit mag dalk hoop gee aan die Aussies vir wie Benn Robinson op loskop sal begin en James Horwill die nr.5-trui sal laat dra. Beide spelers het die Brisbane-toets gemis en hul teenwoordigheid sal beslis ‘n verskil maak in die beginspan.

Die poeierkwas-skrumbeeld wat hulle nagelaat het sit stewig in McKenzie se geheue en hy sal sekerlik op ‘n groot verbetering aandring.

Strauss, wat ook as die span se onderkaptein begin, het Dinsdag gesê dat die Bokke die Wallabies van voor af wil aanvat.

“Ons glo hulle sal emosioneel wees oor dit (die skrumwerk) en dit sal wil gebruik om hulle te motiveer. Hulle sal beter wees, ja, maar ons is positief, ons wil die skrum as ‘n wapen teen hulle gebruik,” het Strauss gesê.

Stephen Moore, haker  van die Wallabies, het erken dat hulle ernstig oor die skrums gepraat het. “Dit was maar ‘n gemors en baie teleurstellend die laaste keer toe ons teen Suid-Afrika gespeel het. Ons weet daar wag ‘n taai stryd.”

Moore  het bygevoeg dat daar geen verskil tussen die twee Bokhakers is nie en dat beide baie hard skrum. “Ons moet goed begin, want die fisieke aanslag gaan baie hard wees, daar sal balle in die lug wees en baie harde fisieke kontak, ons sal moet seker wees ons deel dit uit eerder as om aan die ontvangkant te wees,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.