Bulle wil Loftus weer ʼn vesting maak

Ruan Nortjé sal die Blou Bulle vanaand in hul Curriebekerwedstryd teen die Westelike Provinsie op die veld lei. Foto: GB Jordaan.

Volgens slim mense neem dit ongeveer twee maande vir ʼn gewoonte om pos te vat by ʼn mens. Nou ja, ʼn Bulls-span het laas op 14 Januarie ʼn wedstryd gewen toe hulle met Exeter op Loftus Versfeld afgereken het.

Sedertdien het hulle onder meer teen Lyon, die Stormers en die Lions verloor, terwyl hul Curriebekerspan verlede naweek op hul tuisveld sleg tweede teen die Pumas gekom het.

Die Pretorianers sal egter vanaand alles in die stryd werp om weer op die wenpad te kom wanneer hulle teen die Westelike Provinsie in ʼn Curriebekerwedstryd te staan kom.

Die opdrag is eintlik eenvoudig: Maak van Loftus weer ʼn vesting.

Edgar Marutlulle (afrigter) het ʼn rits veranderinge aan die span aangebring wat harde bene teen die Laevelders gekou het.

Van die unie se grootste name – soos Harold Vorster, Elrigh Louw, Marco van Staden, Cyle Brink, Bismarck du Plessis en Ruan Nortjé – is almal by die wedstrydgroep ingesluit in ʼn poging om die Kapenaars te tem.

Veral die insluiting van die jong Quewin Nortjé op regtervleuel maak Bul-ondersteuners opgewonde.

Die 19-jarige oudleerder van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het sy skool op die rugby- en krieketveld verteenwoordig, terwyl hy ook ʼn baie kranige atleet was. Daarbenewens het hy ʼn driekuns van drieë in sy enigste Carltonbeker-wedstryd gedruk.

Intussen het ʼn veglustige Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, teruggekap en gesê dat die Pretorianers hulself nie in ʼn rugbykrisis bevind nie.

(Foto: GB Jordaan)

“Hoe kan jy in ʼn krisis wees as jy steeds onder die topagtspanne in die Verenigde Rugbykampioenskap tel, in die laaste 16 van die Kampioenebeker is en nog net een Curriebekerkragmeting verloor het?” het White gevra.

Volgens die voormalige Springbok-afrigter sal sy spelers staande bly.

“Ek weet ons sal ook hierdeur kom – daar wag immers nog ʼn lang pad in die reekse en niemand het nog enigiets gewen nie. Leinster het byvoorbeeld verlede jaar al hul wedstryde gewen, net om in die eindstryd van die Kampioenebeker vas te val, terwyl ons hulle ook in die halfeindstryd van die VRK-reeks geklop het.”

Tog sal hul ondersteuners daarvan hou as hulle nou met die Westelike Provinsie kan afreken. Voordat verloor ʼn gewoonte word.

Die wedstryd begin vanaand om 19:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: David Kriel (heelagter), Quewin Nortjé (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), S’bu Nkosi (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot en kaptein), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Bismarck du Plessis, Francois Kloppers, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Embrose Papier, Morné Steyn en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.