Cheetahs hardloop futlose Olifante deurmekaar

Foto: Twitter via CheetahsRugby.

Die Vrystaat Cheetahs het vandag 11 drieë gedruk om die OP Olifante met 71–12 in ’n voorbereidingsreeks-kragmeting in Bloemfontein op te dons.

Nou, die probleem wanneer drieë makliker as suigstokkies by ’n laerskoolsnoepie bekombaar is, is dat ’n mens ietwat oorgretig raak.

Soos wat Naas Botha tereg in die rustyd-insetsel gesê het: Wanneer die Vrystaters gestruktureerde aanvalle van stapel stuur, het hulle drieë gedruk, maar wanneer hulle dink dit is ’n seweswedstryd in een van die Bloemfonteinse parkies, kon die Oos-Kapenaars hul man staan.

Inny Radebe se span het juis in ’n tydperk net voor rustyd hul beste rugby van die kragmeting gespeel en Xolela Payi het die eerste van sy twee drieë gedruk.

Dit is egter duidelik dat daar lanklaas mededingende rugby in die Oos-Kaap gespeel is en hulle kon in die tweede helfte net stokflou toekyk hoe die Cheetahs die krane oopdraai.

Die Bloemfonteiners het naderhand die OP-doellyn na hartelus aangeval en hulle kon met reëlmaat punte aanteken.

Die opwindende vleuel Marcell Muller het saam met Wilmar Arnoldi, Rhyno Smith en Tian Meyer elk twee drieë gedruk.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Marcell Muller (2), Wilmar Arnoldi (2), Rhyno Smith (2), Craig Barry, Oupa Mohoje, Tian Meyer (2) en Chris Smit. Doelskoppe: Ruan Pienaar (6) en Rynhardt Fortuin (2).

OP Olifante: Drieë: Xolela Payi (2). Doelskop: Inny Radebe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Androclus ·

Cheetahs het die situasie uitgebyt terwyl hulle weet daardie span het lanklaas mededingende rugby gespeel.

Kiepie ·

Ek is ‘n jare lange Cheetah-ondersteuner, maar ek moet sê hierdie situasie is nie goed vir SA Rugby nie. OP, wat die voedingsbron vir die ontwikkelling van swart spelers moet wees, word deur SARU-reëls en voorskrifte, in die grond in getrap. Geen speler, afrigter of administrateur kan trots bly as jy week na week vertrap word nie.

Frans ·

Wie probeer SARU bluf met die gemors wat opgedis word as rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.