Covid-19-bom tref Oostelike Provinsie

Peter de Villiers. (Foto: Facebook).

Peter de Villiers, die vorige Springbokafrigter en huidige breier van die Oostelike Provinsie, het saam met 11 van die unie se spelers positief vir Covid-19 getoets.

Die nuus is deur die OP-bestuur op sosiale media bevestig.

“As gevolg van die jongste verwikkelinge sal die unie se kantoor tot 14 Junie gesluit wees. Alle vergaderings sal dienooreenkomstig herskeduleer word,” het André Rademan (president) gesê.

Dit beteken ook dat die komende naweek se Curriebeker-opwarmingswedstryd teen Griekwas afgelas is.

Die span is ná die naweek se vriendskaplike kragmeting teen die Cheetahs – wat hulle met 74-7 verloor het – vir die virus getoets.

Volgens Rademan toon geen van die spelers ernstige simptome nie, maar die betrokke spelers sal hulle tot 17 Junie moet afsonder.

Jimmy Stonehouse, die hardebaard-afrigter van die Pumas, het destyds aan Maroela Media gesê dat die grootste uitdaging vir ’n afrigter in die Covid-19-era is om te verhoed dat spelers die virus opdoen.

Anders as die meeste ondernemings toets rugby-unies weekliks hul spelers vir Covid-19, terwyl die media die uitslae met valkoë dophou.

“Jy kan jou spelers soveel moontlik probeer beskerm, maar jy weet nie watter restaurant of winkel hy gaan besoek waar hy die virus moontlik kan opdoen nie. Dit is waaroor jy jouself weekliks die meeste bekommer: Wie is positief wanneer die toetse gedoen word?”

Op die internasionale verhoog het Spanje se sokkerkaptein, Sergio Busquets, ook positief vir die virus getoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.