Curriebeker: Griekwas en Pumas steek tong uit

Argieffoto van die Griekwas teen die Pumas (Foto: @GriquasRugby/Twitter)

Toe die Suid-Afrikaanse rugbybase die pad vorentoe vir die Curriebekerreeks uitgestippel het, het hulle sekerlik nie verwag dat twee van die sogenaamde kleintjies tot die halfeindronde van die reeks sal deurdring nie, veral nie ten koste van drie van die Groot Vier, die Leeus, Haaie en Westelike Provinsie nie.

Maar soos die Pumas en Griekwas die afgelope paar maande gespeel het, verdien hulle dit dubbel en dwars om in die uitspeelrondes betrokke te wees.

Griekwas het Vrydagaand in die Mbombela-stadion die Pumas met 45-44 geklop om die derde plek (36 punte) voor die Pumas (29) weg te raap.

Vroeër het die Westelike Provinsie ʼn bietjie verlore aansien herwin toe hy die Haaie met 28-21 in Stellenbosch gekastei het.

Die Haaie (27 punte) het vyfde geëindig, die WP (19) sesde en die Leeus (15) sewende.

Die Pumas speel die eerste keer sedert 1980, toe brekers soos Kallie Grobler, die La Grange-broers, Richard Cooke en Jorrie Jordaan amok gemaak het, in die halfeindronde van die reeks.

Griekwas het in 1899, 1911 en 1970 die Curriebeker gewen, en spog met vyf oorwinnings (1998, 2005, 2007, 2009 en 2014) in die Vodacombekerreeks.

Die Poubloues en Griekwas se teenstanders in die halfeindronde sal bepaal word deur Saterdagmiddag se wedstryd tussen die Vrystaat-Cheetahs (43 punte) en Bulle (47) in Bloemfontein.

Dit beteken dat die twee halfeindrondes op Loftus Versfeld en Bloemfontein gespeel sal word.

Maar lig maar solank die hoed vir die Pumas (Jimmy Stonehouse) en Griekwas (Pieter Bergh) se afrigters.

Hulle moet raap en skraap met ʼn beperkte spelersbegroting, hul diepte word tot die uiterste beproef, maar die wyse waarop die twee spanne afgerig word en die spelers groei, is ʼn les vir drie van die Groot Vier.

Dit gaan oor spangees, passie en geesdrif, oor die ontwikkeling van die vaardighede van jong en soms onbeproefde spelers, wat hulle baie goed reggekry het.

Daar wag kwaai kopkrap op die SA rugbybase om toe te sien dat die Curriebekerreeks nie verder afgewater word nie.

Daar is juis probleme met die skedulering van aanstaande jaar se reeks, of dit oor ʼn enkel- of dubbelronde beslis moet word en waar dit ingepas kan word.

Die Curriebekerreeks is die lewensaar van die klein unies, hulle sal nie borge, spelers en toeskouers kan lok as daar nie genoeg blootstelling is nie.

Die Pumas en Griekwas het in 2022 reeds hul kant gebring en nou hang dit van die rugbybase af om te sorg dat hulle nie in ʼn doodloopstraat beland nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.