Die verval van die Stormers en Bulls

Daar is destyds gesê dat wanneer rugby by die Maties en Tukkies gesond is, spoel dit oor na die Westelike Provinsie en Noord-Transvaal, en van daar ook dus ook na die Springbokspan.

Kan ʼn mens nog dieselfde sê nadat die Stormers en Bulls Saterdag in die Superrugbyreeks geklop is?

Ja, die Bulls het die verskoning dat hulle in  ʼn oorgangsfase is nadat John Mitchell ʼn paar maande gelede die leisels oorgeneem het, maar as jy darem sewe Springbokke in jou opdrafspan het en jy verloor die tweede keer agtereenvolgens teen die Sunwolves oorsee, moet daar mos vrae gestel word.

Dié keer is die Bulls met 37-42 geklop … en dit was nie te warm of te nat nie en hulle kon net vier drieë teenoor die Sunwolves se ses druk.

Die Stormers was in Buenos Aires met 13 Springbokke (tien in die opdrafspan en nog drie op die bank) teen die Jaguares gelaai, maar hulle is met 14-25 geklop.

Saam het die Bulls en Stormers nog net 10 wedstryde in vanjaar se reeks gewen en 19 verloor. Saam het die Bulls (25) en Stormers (25) net 50 ligapunte. Vergelyk dit met die Crusaders se 54.

Goeie leesstof?

Saam het die Bulls (51) en Stormers (43) 94 drieë gedruk, maar het hulle 110 afgestaan. Wie is in beheer van verdediging?

Gaan dit beter by die Lions en Sharks?

Ja, daar is darem baie lig in die tonnel, want dalk kan albei spanne nog die uitkloprondes haal nadat die Sharks Saterdag op Kingspark die Lions met 31-24 geklop het.

Saam het hulle 117 drieë gedruk, maar ook 106 afgestaan.

Die Lions (41 punte) is nog voor in die Suid-Afrikaanse afdeling, maar hulle het nog net een wedstryd oor ‒ oor twee weke teen die Bulls op Ellispark. Die Lions word op die punteleer van Suid-Afrika gevolg deur die Jaguares (38 punte) en dan die Sharks (32).

Die Jaguares moet nog teen die Bulls en Sharks in Suid-Afrika speel, en dis waar hul doppie geklink kan word. Maar wat gebeur as hulle dalk wen of in albei wedstryde bonuspunte verower?

Die Sharks se twee tuiswedstryde is teen die Jaguares en dan die Stormers op Nuweland.

Dit beteken dat een oorwinning vir al drie hierdie spanne ononderhandelbaar is … en in die Sharks se geval twee.

Die naweek se ander uitslae: Blues 39, Reds 16; Waratahs 31, Rebels 26; Brumbies 24, Hurricanes 12; Chiefs 45, Highlanders 22.

Só staan sake in die Suid-Afrikaanse afdeling (span, wedstryde tussen hakies, ligapunte): Lions (15) 41; Jaguares (14) 38; Sharks (14) 32; Bulls (14) 25, Stormers (14) 25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henk ·

En steeds sal die bok afrigter en keurders volstrek weier om erkenning aan briljante spelers by ander unies te gee ten koste van swakker spelers omdat laasgenoemde vir die kalfie en dwarrelwindjies rond fladder?

volla ·

Ons rugby is maar vrotterig. Wallis se derde/vierde toetsspan het die einste Jaguars die afgelope twee weke groot pakslae gegee..maar dan is Wallis in elk geval beter as die Bokke so dalk moeilik om so te oordeel.

HOBBO ·

Geagte bulle. Ek wil net my medelye met julle maatskappy deel. “Branding ” het alles te make met die skep van n behoefte te skep by die man op straat om dit wat jy het te bekom. Wanneer ek julle treurmare aanskou sien ek mislukking, gebrek aan IK, tevrede met tweede beste ens. Julle volgehoue swak prestasie is nie net die bewys van swak bemarking, maar ook n teken van manne wat slegs vir n salaris werk en alewig op die uitkyk is vir ander werk. Sterkte, julle gaan nie veel uitrig nie. Julle maatskappy is n teken van hoe Steinhof intern lyk.

DHK ·

Dis nie net die Bulle wat ‘n probleem het nie. SA Rugby in sy geheel het ‘n probleem. Geen SA Superspan gaan veel uitrig nie. Hoera….

KIEWIET ·

Wonder wat se die persone nou wat besluit het die CHEETHAS moet uit die Super 15 reeks padgee . En die sogenaamde magtige Bulle moet bly al het hulle ver onder die CHEETHAS geeindig op die punte leer.

Kiewiet ·

Dit gaan nie oor wie in die Super 15 reeks speel nie. Ek is bly die Cheethas speel nou in die Pro 14 reeks. Dit gaan oor watter span altyd bevoordeel word in rugby, en die Bulle staan gewoonlik voor in die ry.

Callie ·

Ou Kiewiet, dit is presies wat nie net rugby nie maar Suid Afrika sink. Dit gaan oor die eie ek en wie ek ondersteun. Alles gaan tot niet oor die ANC se kloue wat oral ingeslaan is en alles vernietig. Jou ou stukkie provinsialisme hoop ek het jy grappenderwys uitgegee

DHK ·

Net so ou Callie, net so… Ons volk is in sy grootste krisis ooit maar ons mense is meer gepla oor watter spanne Superrugby behoort te speel.

PLP ·

Dit het absoluut niks te maak of die Maties of Tukkies goed speel nie. Dit het alles te maak met die 2 unies se benarde finansiele posisie waarin hulle tans verkeer. As dit met n unie se finansies vrot gaan dat loop die span maar dieselfde pad. Dink maar aan n paar jaar gelede toe die Lions se finansies swak was. Toe die Lions wins begin toon toe begin die span te verbeter. Dit sal interesant wees om te sien watter twee unies die beste finansiele state kan toon. Ek is seker dit is die Lions en die Sharks. Ons kan maar self raai wie is die onderste twee met die swakste finansiele posisie

What a joke! ·

Die verval in alle Suid Afrikaanse rugby kom al net duskant 94 af…..die wiele kom val nou mooi af na jare van politiese inmenging…dit is goed so Suid Afrika rugby blanke talent gaan soek jul huil oorsee en vryf die lot bier wat so blind was om jul oor te sien oor jul verl kleur se neuse in die grond GROOT asb! Mooi CJStander,mooi Combrink,mooi Serfontein,mooi Bismarck,Mooi Steyn, mooi hougaard,mooi Willie ,Mooi Brits,mooi Faf,mooi Rohan en, en ,en ,en en al die wat nog gaan volg…jul dienste sal meer daar verdien en waardeer word as die ondankbare pynlikke politiese korrekte kanker.

Kiewiet ·

Dit gaan nie weklik oor wie in die Super 15 reeks speel nie DHK . Ek is bly die CHEETHAS speel nou in die Pro 14 reeks . Dit gaan eindelik oor watter span gewoonlik in Rugby bevoordeel word. En die Bulle staan voor in die ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.