Die wonderwêreld van stutte

Jamie Bhatti (Foto Glasgow Warriors)

Wanneer die son begin water trek en die kole begin gloei, is dit die regte tyd om oor rugby te praat.

Nie oor die morsige twis tussen Allister Coetzee en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie nie, maar oor die ware karakters, soos die Skotse nuwelingstut Jamie Bhatti … en die gewese All Blackstut Jazz Muller.

Bhatti, wat Saterdag in Cardiff in die Sesnasies-reeks teen Wallis kan speel, se oupa, Jatinder Mohan Singh Bhatti, het 60 jaar gelede sy tuisland, Indië, verlaat om ʼn wiskunde-onderwyser in Skotland te word.

Die jong Bhatti het, soos hy dit self aan die BBC gestel het, nie dié gene van sy oupa geërf nie en het skool op 15-jarige ouderdom verlaat waarna hy by ʼn slagplaas opgeëindig het.

Hy het vyf jaar lank in die Skotse dorpie Bridge of Allan diere afgeslag. In sy beginjare as pakker, maar nadat hy bevordering gekry het, kon hy skape slag.  Hy het sy lisensie verwerf om ook beeste te slag en jare lank het hy dié taak vervul …  en meer as 100 000 van hulle geslag.

Oor naweke het hy sy inkomste as deurwagter by ’n nagklub in Falkirk aangevul. Hy wou polisieman word, maar tydens sy onderhoud het hy plankevrees gekry … eintlik wou hy maar net rugby speel.

Twee jaar gelede het hy sy deurbraak by die Glasgow Warriors gekry, waar hy as loskop slegs vyfde in die ry was. Maar deur harde werk en passie het sy drome binne ʼn paar maande waar geword toe hy aan einde van verlede jaar vir Skotland teen Samoa gespeel het.

Hy is terug Hillfoots toe, dáár waar hy die eerste keer rugby gespeel het. Hy het sy Skotse trui aan die plaaslike klub geskenk en het lank met die kinders gesels, oor hul drome en dat hulle nooit moed moet opgee nie.

En Brian “Jazz” Muller?

Jazz Muller, legendariese kragman van min woorde (Foto You Tube)

Hy was in 1970 saam met die All Blacks op toer in Suid-Afrika … ʼn man van baie min woorde.

In een van die toerfoto’s wys hy hoe hy ʼn grassnyer met sy een hand vashou en sy heining snoei. ʼn Ander staaltjie was hoe hy gereeld om drie uur in die oggende aan ʼn groot stuk beeshaas weggelê het om die nag voor wedstryde om te kry.

Muller het sy hele lewe lank ook in ʼn koelkamer gewerk en voer ʼn amperse kluisenaarsbestaan in Eltham in Taranaki. Hy het nie televisie nie, ook nie ʼn selfoon nie en bewaar sy aandenkings soos sy truie, dasse, spanfoto’s en koerant-uitknipsels in een van sy woonvertrekke soos goud.

Daar vind hy sy geluk, sonder om met iemand hoef te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.