Die wonderwerk-halfeind op Kingspark … 22 jaar later

Balie Swart die skrumafrigter – hy moes die Bokskrum 22 jaar gelede in die laaste kritieke minute anker (Foto: YouTube)

Daar is sekere rugbydae wat ʼn mens nooit sal vergeet nie, soos Saterdag, 17 Junie 1995.

Dit was op ʼn dag na presies 22 jaar gelede, in Durban, en reg in die middel van die winter.

Niemand was dus te bekommerd toe dit die Vrydagmiddag voor die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi tussen die Springbokke en Franse begin reën het nie.

Dit sal opklaar, het ons almal  gehoop en gedink … só ook die Weerburo en die SAUK se televisienuus.

Maar nee, ons vrese is bewaarheid toe dit die Saterdagoggend steeds reën. Die res van die oggend was dit al waaroor ons kan praat. Die reën, reën en nogmaals reën.

Ons was naarstiglik op soek was na reënjasse en -baadjies, want die Wêreldbekertoernooi-persbank was oop en in die middel van paviljoen. Op die ou einde moes ʼn stel swart vullissakke die ding doen. Goedkoop en ondoeltreffend.

Toe ons skuins na middagete by Kingspark aankom, is ons, reeds watersop-papnat, deur ʼn waterbad begroet.

Wat nou?

Na ʼn lang gekoukus, gestry en ʼn geredekawel, ook oor van die Bokke soos André Joubert en Joost van der Westhuizen wat eerder met langmoutruie sonder nommers wou speel (maar toestemming geweier is), is ons ingelig dat die Franse tot die eindstryd sou deurdring as dit te gevaarlik sou wees om voort te gaan.

Sies James Dalton, dis alles jou skuld, het dit deur my kop geflits. Arme Dalton het mos ʼn rooikaart in die groepwedstryd teen Kanada gekry en die Franse se rekord was vlekkeloos. En Pieter Hendriks is na die wedstryd uitgewys en geskors.

Die Durbanse buiteklub met sy beroemde gholfbaan het tot die redding met ʼn paar waterpompe gekom en ʼn hele paar werkers is inderhaas nader getrek om met groot besems die water te probeer wegvee.

Die horlosie het aangestap, die Bokke wou speel, die Franse ook, en die Walliese skeidsregter, Derek Bevan, het ook nie vir ’n oomblik daaraan getwyfel nie.

Maar dit was steeds te nat, te gevaarlik met plasse wat oor die hele veld versprei was.

Vee, vee, vee … pomp, pomp, pomp vir byna 90 minute lank voordat die spanne kon opdraf.

Dit was ʼn wonderwerk, só ook die telling, en die papnat notaboeke en penne wat nie meer kon skryf nie.

Die Bokke was kort voor die einde (dit het terloops kort voor rustyd weer begin reën) met 19-15 voor, maar die Franse was op die aanval.

Abdelatif Benazzi is kort voor die doellyn gestuit … die Franse sweer tot vandag toe dat hy wel die drie gedruk het. Aikôna, het die Bokke en Bevan gesê.

Maar as daar destyds ʼn televisieskeidsregter was … nouja!  En toe volg daardie laaste paar skrums wat in duie gestort het.

Ek sal nooit die Bok-slot Kobus Wiese se gevleuelde woorde aan die vaskopstut, Balie Swart, vergeet nie: “Balie, jy kan opgaan of afgaan, maar net nie terug nie,” het hy glo gesê.

En so het dit gebly, tot die eindstryd ʼn week later op Ellispark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Jaybee ·

Sal daardie wedstryd nooit vergeet nie. So ‘n wedstryd sien jy net een keer in jou lewe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.