Dis hoekom die nr. 10’s in watte toegedraai word

Handre Pollard in aksie. Foto:. (AP Photo/Florencia Tanjun)

Wanneer enige rugbyspan se losskakel die dag die toutjies trek, kan jy maar die gordyne toetrek, want die slag is gelewer.

Gaan lees maar tot watter hoogtes Bennie Osler die Springbokke in 1928 en weer in 1931-’32 gevoer het, hoe Hannes Brewis in 1949 en in 1951-’52 die argitek van die Bokke se oorwinnings was, hoe Piet Visagie die All Blacks in 1970 gekelder het, hoe Naas Botha dieselfde met die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986 gedoen het en oor Handré Pollard se groot rol in die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbekertoernooi in Japan verlede jaar.

Ja, rugby is ʼn spansport, die voorspelers moet beheer neem, die skrumskakel moet rigting gee, die duikslae moet klinies uitgevoer word, dissipline mag nie lol nie, en dies meer.

Maar sê nou maar Pollard kon nie in die half- of eindstryd gespeel het nie, wie sou dan by hom oorgeneem het?

Elton Jantjies, Damian Willemse, Frans Steyn?

Die Webb Ellis-trofee?

Wanneer die Britse en Ierse Leeus aanstaande jaar deur die land toer, gaan hulle smag na ʼn Johnny Wilkinson, Cliff Morgan, Richard Sharpe, Barry John of ʼn Phil Bennett.

Die man in die nr. 10-trui was nog altyd waarom alles gedraai het. Wanneer ʼn bekwame losskakel seerkry, kook die melk op die stoof oor en die koffie is bitter.

In 1970 is die All Blacks (destyds die wêreld se beste span nadat hulle sedert 1965 onoorwonne was) se drome binne ʼn sekonde beëindig toe die losskakel Wayne Cottrell deur Joggie Jansen geplettervat is en sy toer daarmee heen was.

In 1962 was die Engelse losskakel Richard Sharpe die spil van die Britse Leeus-toerspan. Maar sy wangbeen is ʼn week voor die eerste toets deur ʼn plettervat van Mannetjies Roux gekraak en sy toer was daarmee heen.

Die Bokke het die reeks met 3-0 gewen nadat die eerste toets met 3-3 gelykop geëindig het.

In 1968 was die Walliese losskakel Barry John bekend as die koning. Maar hy het sy sleutelbeen in die eerste toets gebreek en die Bokke het weer die reeks met 3-0 beklink nadat die tweede toets met 6-elk gelykop geëindig het.

In 1955 het Morgan enduit op die veld gebly en die Leeus het die reeks met 2-2 gedeel. In 1974 was Phil Bennett die anker en het die Leeus die reeks met 3-0 gewen.

Dis hoekom brig. Buurman van Zyl vir Naas Botha in watte toegedraai het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Naas Botha se opdrag op die veld was dat hy nie moet tekkel nie want hy mag nie seer kry nie, want die span se punte was in sy voet.

capie ·

Naas Botha mag nie getekkel word nie. Laaste ou wat dit gedoen het, het ‘n strafskop gekry, en dit was ‘n wettige tekkel. Beste senter ter wereld het langs Naas gestaan, maar kon net 1 drie druk. Dit was ‘n rolbal wat hy opgetel het toe Naas nie die bal wou vat nie. Is ek reg?

Die Wolf ·

As hy die dag n tekkel uitgevoer het was dit voorblad nuus wereldwyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.