Dobson het nog hoop, ondanks nederlaag

John Dobson – hoofafrigter van die Stormers. (Foto: Thierry Zoccolan/AFP.)

Munster het die Stormers Saterdagaand met 10 – 3 op ʼn nat en koue Thomond-park in Limerick geklop.

Die Kapenaars het veral in die tweede helfte ʼn stewige vertoning gelewer, maar hulle kon net nie die knoop deurhak nie.

Dit was nogtans die Stormers se derde nederlaag in vyf wedstryde, maar afrigter John Dobson glo daar is steeds rede om optimisties te wees.

Die besoekers het die septer in die skrums geswaai, terwyl Evan Roos twee keer in die laaste 40 minute van die wedstryd net nie daarin kon slaag om sy driedruklopies af te rond nie.

“As ons ʼn drie gedruk het, sou ʼn eindtelling van 10 elk ʼn meer regverdige uitslag gewees het. Dit is moeilik om in Limerick te wen en Munster is stelselmatig besig om weer op alle suiers te vuur. Ek is dus tevrede met die vertoning, maar teleurgesteld dat ons nie die uitslag kon beheer nie,” het Dobson gesê.

Hy is veral tevrede met die Stormers se terugvegpoging in die tweede helfte.

“Takties was ons nie deur ʼn Noordelike Halfrond-span uitoorlê nie en dit is iets positiefs waarop ons beslis kan voortbou.”

“Die vertoning gee vir my soveel hoop vir die span. Ek is trots op die spelers en opgewonde oor wat hulle alles nog op die speelveld kan vermag.”

Die Stormers is tans negende op die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer met 12 punte ná vyf wedstryde.

  • Puntemakers:

Munster: Drie: Edwin Edogbo. Doelskop: Jack Crowley. Strafskop: Crowley.

Stormers: Strafskop: Sacha Feinberg-Mngomezulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Kry ‘n beter haker wat die bal reguit kan ingooi by lynstane. Julle het 5 lynstane verbrou, waarvan 3 binne Munster se kwartgebied. Julle het ook ‘n strafskop gekry waarvan die lynskop nie uit was nie, maar oor die doodlyn geskop is. Julle sal nie wen met sulke amateuragtige foute nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.