Dubbele sportlegende sterf op 82

Tom van Vollenhoven

ʼn Mens kan maar sê hy was ʼn dubbele legende, dié Springbokvleuel van die vorige eeu se jare 50 wat pas in die ouderdom van 82, ná swak gesondheid die afgelope paar jaar, aan die Oos-Rand oorlede is.

Karel Thomas van Vollenhoven het net in sewe toetse vir die Bokke gespeel, maar in die tweede daarvan – in 1955 teen die Britse Leeus op Nuweland – het hy sy naam in die Bok-annale verewig toe hy drie drieë teen die hoogaangeskrewe Ierse vleuel Tony O’Reilly gedruk het. Hy was die eerste Springbok om dit in Suid-Afrika reg te kry.

Karel, soos hy aanvanklik bekend was, het sy hare borselkop gedra, en skielik was dit die voorkeurhaarstyl van elke skoolseun wat iets van rugby af geweet het.

Ná die Boktoer van 1956 na Nieu-Seeland het Van Vollenhoven beroepsrugby (die 13-mankode wat destyds die enigste was wat spelers betaal het) in Engeland gaan speel, en een van die grootste name in die geskiedenis van dié spel geword.

Van Vollenhoven was ʼn 19-jarige polisieman toe hy in 1954 die eerste keer vir Noord-Transvaal gespeel het, en het op 20 Springbok geword.

Hy het vir die Vrystaatse o.19-span gespeel voor hy Pretoria toe verhuis en in 1954 en 1955 in 15 wedstryde (van 17 in dié tydperk) vir die Ligbloues gespeel het.

Een van van Vollenhoven se beroemde drieë teen die Britse Leeus van 1955.

Sy vaart, saam met uitstekende balans en ʼn wonderlike systap, het in 1955 aan hom sy eerste toetswedstryd in die Groen-en-goud besorg.

Noord-Transvaal het teen die Junior Springbokke gespeel, wat deur die land getoer het as deel van ʼn siftingsproses om die beste toetsspan te kies. Karel se drie vir die Ligbloues, toe hy die een speler ná die ander in ʼn kurktrekkerlopie geklop en 80 m ver gehardloop het om te druk, word steeds deur sommige geprys as die drie van alle drieë op Loftus Versfeld.

Van Vollenhoven het sy toetsbuiging op senter gemaak, maar is vir die tweede toets linkervleuel toe geskuif.

Hy het ʼn vierde toetsdrie in die vierde toets teen die Leeus gedruk, en het die volgende jaar op toer deur Australië en Nieu-Seeland ʼn skepdoel in die tweede toets teen die Wallabies behaal.

Hy het op toer (waar hy as “Tom” bekend geraak het) in albei toetse teen die Wallabies gespeel, maar was nooit op sy beste op die nat Nieu-Seelandse velde nie, en het slegs in die derde toets gespeel.

Vollie, soos hy in die wandel bekend gestaan het, het nogtans in 19 toerwedstryde gespeel en die meeste, 16, drieë gedruk. Sy 51 punte (die skepdoel ingesluit) was die derde meeste deur ʼn lid van die toerspan – en ook in Nieu-Seeland het die borselkopmode inslag gevind.

Van Vollenhoven in aksie op toer in Nieu-Seeland. Links is Jan Pickard, die oupa van die huidige Springbok Francois Louw.

In league was hy uit die staanspoor ʼn sensasie en, nou bekend as “Voll” of later “The Von”, het hy 392 drieë in 408 wedstryde vir die klub St Helens aangeteken.

Hy was een van slegs vier spelers wat ses drieë in ʼn league-wedstryd kon druk, en die enigste wat dit twee keer kon regkry.

Toe die Engelse league-klub Wakefield Trinity in 1962 deur Suid-Afrika getoer het, is hy as gasspeler saamgenooi.

Van Vollenhoven het later jare as spanbestuurder opgetree toe ʼn rugbyspan van Noord-Engeland deur Suid-Afrika getoer het.

By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy hom in Springs gevestig.

Hy was insgelyks ʼn provinsiale atleet wat in die naellope, verspring en driesprong uitgeblink het.

Die atletiekhistorikus Dewald Steyn sê Van Vollenhoven was in 1955 ʼn lid van die Noord-Transvaalse span wat ʼn Suid-Afrikaanse en Statebondsrekord in die 4 x 110-tree-aflos opgestel het.

Sy afstand van 24 voet 5½ duim (7,46 m) was in die 1955-56-seisoen, gesamentlik met die Springbok Gideon van Heerden, die tweede beste op die SA ranglys; sy afstand van 46 voet 6 duim (14,17 m) in die driesprong was die vyfde beste; en hy het die 100 tree in 9,8 sekondes afgenael.

Van Vollenhoven se kleindogter, Bianca Mann, het Suid-Afrika as gimnas verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem Frost ·

In 1955 was ek in graad 2. Vollie was my groot, groot held. my hare ook borselkop gedra.

Pieter Murray ·

Die voorreg gehad om oom Tom sowat 8 jaar gelede te kon ontmoet, en n paar keer daarna by hom en tannie Leonie te kon kuier. Groot sportman en mens gewees. Sal jou nooit vergeet nie oom Tom. SALUUT.

Pieter Murray ·

Die voorreg gehad om hierdie legende sowat 8 jaar gelede te kon ontmoet, en sederdien n paar keer by oom Tom en tannie Leonie te kon kuier. Waarlik n groot sportman en mens. Oom Tom ek salueer jou.

Louis Horn ·

Ek onthou as n jong seun vir Tom hy was ons almal se held

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.