Engeland stuit Blitsbokke se segetog

sevens-logo-grootDie Blitsbokke het hul derde wedstryd en tweede eindstryd in  Wêreldrugby se sewesreeks teen Engeland verloor toe hulle met 7-19 in die eindstryd van die Vancouver-toernooi geklop is.

Engeland het daarmee sy tweede toernooi in die reeks gewen nadat hy die Blitsbokke in Desember in Kaapstad in die eindstryd geklop het. Daar was in Australië in die groepronde ook ʼn oorwinning vir Engeland teen Suid-Afrika en Saterdag in Vancouver het die twee spanne gelykop gespeel. Die Blitse het dusver 32 van hulle 36 wedstryde in die reeks gewen en een keer gelykop gespeel.

♦  Die Bokke het in die eindstryd weer so goed verdedig as wat hulle aangeval het, maar het in die wedstryd vier hanteerblapse gemaak – een wat tot onkantspel weens die aanslaan  gelei het. Die Suid-Afrikaners se angel is ook grootliks getrek deur Engeland wat agterlangs nie so opgeskiet het as voorheen nie om die snellers Rosko Specman en Cecil Afrika te verhoed om met aftrappe deur hulle te sny.

In die eindstryd was die Blitsbokke binne 62 sekondes met 7-0 voor toe hulle omkeerbesit pragtig gebruik het om heen en weer wyd oor die veld te speel. Shakes Soyizwapi was in die hoek oor om te druk.

Letterlik met die geskal van die toeter is Engeland se Richard de Carpentier oor nadat Engeland ook van omkeerbesit af, gaan druk het vir sy kaptein Tom Mitchell om soos Afrika, van die kant af te verdoel.

Na die hervatting het Engeland se Dan Bibby die Blitsbokke se goeie verdediging gefnuik met ʼn volmaakte rolskoppie en is hy onder die pale oor (7-14).

Specman sou miskien nie gaan druk het nie, maar die aanval het goed vir Suid-Afrika gelyk toe hy langs die kantlyn af is net om die bal sommer teen die grond te gooi toe hy sy dyspier getrek het. En toe het Engeland die spel oomblikke daarna van die een kant na die ander gerek en hulle spoedvraat Dan Norton in  die hoek oorgestuur.

Die oorblywende (amper) twee minute was nie genoeg tyd om in te haal nie en die foutjies het steeds in die Blitsbokke se spel ingesluip.

♦  Engeland was uit die staanspoor skerp – en dis geen wonder nie nadat hulle met die wêreld se selfvertroue op die veld gekom het nadat hulle die halfeind met 40-7 teen Fidji gewen het. Engeland was teen rustyd al met 19-0 voor.

Suid-Afrika, daarenteen, was in hulle halfeind teen die VSA met 14-10 aan die wenkant, maar het hulle stukkies geluk gehad. Die grootste hiervan is toe die Amerikaners sowat ʼn minuut na die toeter oor die Blitsbokke se doellyn is maar Werner Kok met pure krag verhoed het dat die bal vir die wendrie op die grond geplaas kon word.

♦  Die Blitsbokke (126 punte) is nietemin steeds 23 punte voor Engeland (103) op die reeks se puntelys met Fidji in die derde plek. Vier toernooie moet nog gespeel word: Hongkong (7-9 April), Singapoer, Parys en Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phillip ·

Dagsê Gustav

Dankie vir jou valkoog! Ons het die glipsie gewysig.

Groete

Phillip Bruwer, nms. Maroela Media

Groot trots ·

Jul bly egter ons almal se trots, werklik ‘n afrigter en groep jong manne wat enige land se trots is, hul werk saam, hul leef saam as ‘n span met 1 doel om hul werk en natuurlik passie ten volle uit te leef. Geen predictions, wow doen so voort, vat Engeland volgende keer dubbeld so hard vas!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.