Faf en Jesse klop Aaron-hulle wéér

Aaron Smith en Faf de Klerk op die rugbyveld. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Springbokke Faf de Klerk en Jesse Kriel was weer eens te sterk vir All Black-sterre Aaron Smith en Beauden Barrett. Dié keer in Japan.

De Klerk en Kriel se Canon Eagles het die afgelope naweek Smith en Barrett se Toyota Verblitz met 24 – 22 geklop. Meer as 31 000 toeskouers het die aksie op die Nissan-stadion in Kanagawa gevolg.

Die laaste keer wat dié vier spelers teen mekaar gespeel het, was in die Wêreldbeker-eindstryd op die Stade de France; ʼn kragmeting wat die Suid-Afrikaners met 12 – 11 gewen het.

Die 35-jarige Smith het nou in die doodsnikke van die Eagles‑Verblitz-kragmeting ʼn drie gedruk, maar sy span was weer aan die verloorkant.

Daar was vroeër uit Nieu-Seeland berig dat die ervare skrumskakel se drie in die 54ste minuut van die Wêreldbeker-eindstryd ook eintlik geldig was.

Smith – wat toe in sy laaste wedstryd vir die All Blacks gespeel het – het ná Richie Mo’unga se goeie lopie oor die Springbok-doellyn geseil, maar TV-skeidsregter Tom Foley se valkoë het ʼn aanslaan in aanloop tot die drie raakgesien.

Hy het skeidsregter Wayne Barnes daarvan in kennis gestel en ʼn kort rukkie later is beslis dat Smith se driedrukpoging nie tel nie.

Volgens Stuff het Wêreldrugby – as’t ware in die privaatheid van sy binnekamer – glo toegegee dat dit die verkeerde beslissing was.

Die internasionale rugbybeheerliggaam het egter ʼn kort rukkie later sy gewig agter die wedstrydbeamptes gegooi.

“Ons het alles in die stryd gewerp,” het Smith later oor die eindstryd gesê.

“Suid-Afrika het doodeenvoudig net in die belangrike oomblikke van die wedstryd sy man gestaan; dit is hoe dit maar soms in rugby gaan. Toetsrugby kan ongenaakbaar wees en dit was ʼn ongelooflike wedstryd. Om teen die Springbokke te speel haal die beste uit ons uit.”

  • Spanne:

Canon Eagles: Junpei Ogura, Inoke Burua, Jesse Kriel, Yusuke Kajimura, Matsui Chihito, Yu Tamura, Faf de Klerk, Sione Halasili, Naoto Shimada, Kobus van Dyk, Matthew Philip, Laikimatagi Moli, Ryosuke Iwaihara, Shunta Nakamura en Takato Okabe.

Toyota Verblitz: Dick Wilson, Viliame Tuidraki, Siosaia Fifita, Charlie Lawrence, Yuki Okada, Beauden Barrett, Aaron Smith, Isaiah Mapusua, Kazuki Himeno, William Tupou, Tom Robinson, Ryoma Nishimura, Runya Che, Yoshikatsu Hikosaka en Shogo Miura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.