Franse kou klippe teen Italië

Die Franse span kort voor hulle teen Italië afgeskop het. (Foto: Twitter/ France Rugby)

Wanneer die Wêreldbeker in September vanjaar in Frankryk afskop, behoort die tuisspan een van die groot gunstelinge te wees. Die Italianers het vandag in die Sesnasies in Rome gewys hulle is nie so onoorwinlik soos wat hulle dink nie.

Dit was ʼn drie in die 67ste minuut deur plaasvervanger Matthieu Jalibert wat die wedstryd in die Franse se guns geswaai het. Na 66 minute was die telling 24 – 22 in die tuisspan se guns. Tot in die doodsnikke was die Italianers op die aanval en dit was net vasbyt-verdediging vyf treë van hulle eie doellyn af wat die besoekers se basse gered het.

Die Franse was vroeg voor en na 22 minute was die telling 12 – 3 na drieë vir Thibaud Flament en Thomas Ramos.

Na nog ʼn drie deur Ethan Dumortier was die telling 19 – 6 en dit het gelyk soos nog ʼn drag slae vir die tuisspan wat op pad was.

Die naam Ange Capuozzo gaan nog baie gehoor word. Hy is die heelagter van Italië en elke keer wat hy aan die bal raak, kan enigiets gebeur. Hy is die angel van Italië se aanval en gaan nog menige span se verdediging aan flarde skeur. Sy drie het die Italianers terug in die wedloop geplaas en die rustydtelling was 19 – 14 in die besoekers se guns.

ʼn Strafdrie vir Italië en ʼn geel kaart vir flank Charles Ollivon het die Italianers hoop gegee dat hulle dalk die onmoontlike kan vermag.

Tommaso Allan was suksesvol met ʼn strafskop vir Italië om sy span met 24 – 22 voor te laat loop voordat Jalibert die skare in Rome se harte gebreek het.

Die Franse het wel ʼn bonuspunt-oorwinning behaal, maar die Italianers het gewys hulle gaan nie op tuisbodem die slaansakke van die Sesnasies wees nie.

Die Franse het baie slypwerk om te doen as hulle volgende Saterdag vir Ierland in Dublin wil klop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.