ʼn Losskakel, wat verlede jaar nog Curriebekerrugby gespeel het, het Saterdag 19 punte met die skopskoen vir sy span in die Spaanse Liga van Eer behaal.
Hansie Graaff, wat die SWD Arende die afgelope seisoen verteenwoordig het, het albei Silverstorm El Salvador se drieë verdoel en boonop vyf strafdoele deur die pale gejaag.
Sy span het Sanitas Alcobendas 29-25 verslaan.
Graaff, ʼn oudleerling van die Hoërskool Wonderboom in Pretoria, het die eerste keer die oog gevang toe hy in 2010-2012 vir die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in die Varsitybekerreeks uitgeblink het.
Ná twee suksesvolle Curriebeker-seisoene by die Griffons het ʼn kniebesering planne dat hy vir die Sharks speel in die wiele gery.
Daarna het hy vir die OP Kings en die Border Bulldogs gespeel voor hy verlede jaar SWD toe is.
Franse Pro D2-liga
Burton Frances, die losskakel van Agen, wat Superrugby in Suid-Afrika gespeel het, het Sondag ʼn doelskop en ʼn strafdoel (vyf punte) vir Agen op die telbord geplaas in sy nederlaag van 23-25 teen Beziers in die Franse Pro D2-liga.
Frances het in 2008-2013 in oor die 30 Superrugbywedstryde vir die Bulls, die Lions, die Stormers en die Cheetahs gespeel.
Moet se die hoof opskrif is misleidend, “Gwese currie beker skop 19 in Spanje” op die oog af wonder mens nou hoekom skop hy 19 mense wat is die rede en sou jy verder lees dan besef jy dit is punte. Sou dit nie beter oorgekom het as daar geskryf was ” Gewese curriebeker speler teken 19 punte doel skoppe aan in Spanje” vra maar net
Nee cor, hierdie is ‘n sport artikel en enige rugby ondersteuner het onmiddellik geweet waaroor dit gaan.