Dit was `n week voor Kersfees in 1969 toe `n Kerskaartjie uit Engeland opgedaag het.
Dit was in die dae toe al wat `n gesin was, hordes en hordes Kerskaartjies ontvang het, van jou naaste gesinslede, `n verlore niggie of kleinneef van wie jy net een keer `n jaar verneem het, die dokter, die dominee, die winkel op die hoek … elke Jan Rap en sy maat.
Die kaartjies is sorgvuldg in die sitkamer oor `n lang dun tou gehang … in orde van belangrikheid en ook hoe mooi hulle was. Soms was daar twee rye, as `n mens baie familie en vriende gehad het.
Saans wanneer ons om die eetkamertafel gesit het en klaar huisgodsdiens gehou het, is die dag se Kerskaarte op die tafel geplaas en moes ons raai wie dit gestuur het voordat ons dit kon oopmaak. Soms was dit maklik, want die afsender se handskrif of posstempel het dit verraai.
Maar met die ene het ons gesukkel … want wie het ons in Londen geken?
‘n Geseënde Kersfees en `n voorspoedige Nuwe Jaar word u toegewens (in albei tale gedruk) … en toe in sy eie handskrif … Groetnis … Dirkie de Vos, langs `n gedrukte Springbokembleem.
Net drie woorde, maar dit het die wêreld vir ons beteken.
De Vos was saam met die Bokke in Brittanje en Frankryk op toer, ene wat byna drie maande geduur het. Ons het hom kort voor die span se vertrek by my niggie en aangetroude neef in Welkom ontmoet waar hy op die myn “gewerk” het – maar eintlik rugby gespeel het.
As tjokkers het ons aan sy lippe gehang, want Dirkie kon baie staaltjies vertel oor hoe daar geoefen, gekuier en gespeel word.
Ek het vanjaar nog nie `n enkele Kerskaartjie ontvang nie, en sal ook nie. Maar op Kersaand en Kersdag sal die sms’e instroom.
Koud, onpersoonlik en sonder siel … net soos dit deesdae in rugby gaan.