Hansen word deel van Toyota-span

Steve Hansen. (Foto: Twitter)

Steve Hansen – die All Blacks se briljante afrigter – sal binnekort in ’n raadgewende hoedanigheid by Japan se Toyota Verblitz aansluit.

Die 60-jarige Hansen is ’n legende in wêreldrugby en het net tien van sy 106 toetse aan die stuur van die All Black-span verloor. Hy het sy geliefde span tydens vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi gegroet toe die Nieu-Seelanders die bronsmedaljewedstryd teen Wallis gewen het.

Nou het Japan Times berig dat hy die pos aanvaar het om Toyota Verblitz se nuwe direkteur van rugby te word.

Hansen het die nuus op die All Blacks se sosialemedia-platforms bevestig.

“Ek sien baie uit om by die klub aan te sluit,” het Hansen gesê.

Hy het egter bygevoeg dat hy meer van ’n mentorskaprol vir Simon Cron sal vertolk. Cron het die afrigtersleisels by Suid-Afrika se Jake White oorgeneem.

Volgens Hansen is die pos perfek omdat hy steeds by die spel betrokke sal wees, maar ook genoeg tyd saam met sy gesin kan deurbring.

Hoewel Toyata Verblitz vierde in die 2018/2019-Topliga klaargemaak het, het hulle ’n rowwe jaar agter die blad.

’n Dwelmbom het vroeër by die klub gebars toe twee spelers vir die besit van kokaïen in hegtenis geneem is.

Die klub se 28-jarige losskakel, Rayota Kabashima, is gearresteer nadat polisiebeamptes een gram kokaïen in sy beursie gevind het, wat hy glo in ’n taxi agtergelaat het. Dan is die Kiwi Steven Yates óók met die dwelmmiddel in sy besit betrap.

“Terwyl ons gaan probeer om kompetisies te wen, is dit ook belangrik dat ons ’n kultuur en omgewing by die klub vestig waarop almal kan trots wees,” het Hansen gesê.

  • Die Wêreldbeker-wenner, Willie le Roux, is een van die Suid-Afrikaners wat vir die klub speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.