Italië skok Wallabies

Italië druk ‘n drie teen Australië. (Foto: Twitter/Italian Rugby Federation)

Dit sal Rassie Erasmus en Jacques Nienaber loon om nie al hul topspelers vir komende Saterdag se derde toets op hul Europese toer teen Italië te laat rus nie.

Dit het Italië Saterdag in die Stadio Artemio Franchi in Florence gewys toe hulle Australië met 28 – 27 geklop het, nadat die Azzurri (die Bloues) rustyd met 17 – 8 voor was.

Italië is nie een van die reuse van rugby nie, maar nadat hulle Samoa verlede Saterdag met 49 – 19 geklop het, het hulle daarop voortgeweef.

Die Wallabies, wat verlede Saterdag naelskraaps met 29 – 30 teen Frankryk verloor het, het 11 veranderings aan hul span aangebring wat teen die Hane slae gekry het en het die duur prys daarvoor betaal.

Hul dissipline het hulle boonop lelik in die steek gelaat en die Nieu-Seelandse skeidsregter Brendon Pickerill het hulle 18 keer gestraf.

Ondanks die rits strafskoppe kon die Wallabies steeds gewen het nadat die plaasvervangerslot Cadeyrn Neville in die 80ste minuut ʼn drie gedruk het.

Die jong Ben Donaldson kon egter nie met die doelskop slaag nie. Dit het die vreugdevure in die Italiaanse kamp hoog laat brand met hul eerste oorwinning in 19 toetse teen die Wallabies.

Die groot vraag is of Italië genoeg skietgoed het om die Bokke te troef.

Hulle het ’n skaflike en beweeglike pak, maar die Bokke behoort hulle fisiek te oorheers.

Agterlangs word die bal flink rondgegooi, met die vleuel Monty Ioane, wat in Australië grootgeword het, en die tinktinkie-heelagter Ange Capuozzo die groot planmakers.

Nietemin behoort die Bokke as oorwinnaars uit die stryd te tree, tensy hulle die Italianers onderskat en baie swak speel.

Punte: Italië 28 (17): Drieë: Pierre Bruno, Ange Capuozzo (2).   Doelskoppe: Tommaso Allan (2). Strafdoele: Allan (2), Edoardo Padovani.

Australië 27 (8): Drieë: Tom Wright, Fraser McReight, Tom Robertson, Cadeyrn Neville. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Strafdoel: Lolesio.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Beste resultaat van die naweek. Lanklaas so bly gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.